Man ernstig beseer toe kaper oor hom ry

Jaco Coetzee. Foto: Facebook.

Jaco Coetzee (30) is in ʼn ernstige toestand in die hospitaal opgeneem nadat sy voertuig Dinsdagaand in Secunda, Mpumalanga, gekaap en die kaper hom uit die bewegende bakkie geskop en oor hom gery het.

Albert Coetzee, Jaco se pa, het aan Maroela Media gesê Jaco het Dinsdag omstreeks 20:00 ʼn pastei by ʼn vulstasie in Secunda gaan koop.

“Ons het later op die kameras gesien hoe ʼn man saam met hom in sy bakkie klim toe hy in die bakkie klim en hom na die passasiersitplek oorgeskop het,” het Coetzee vertel.

Die man het met Jaco steeds in die bakkie weggejaag en hom later uit die bewegende bakkie geskop. “Jaco het vir so lank as wat hy kon, vasgeklou en is saam met die bakkie gesleep. Ek weet nie of hy gelos het omdat die spoed te hoog geraak het en of hy net nie meer kon vashou nie,” het Coetzee gesê.

Volgens Coetzee het die kaper Jaco weer in die bakkie gelaai en met hom na ʼn parkie gery. Daar het hy hom op die grond gesit en met die agterwiel van die voertuig oor Jaco gery.

Coetzee vertel dat ʼn vrou Jaco daar sien lê het en haar paniekknoppie gedruk het. “Die veiligheidswagte het hom daar aangetref en dadelik die paramedici gekontak.”

Volgens Coetzee is Jaco in die Mediclinic Highveld opgeneem met ʼn gebreekte borsbeen, ses gebreekte ribbes en erge wonde aan sy kop soos wat hy oor die pad gerol het. “Hy het omtrent nie ʼn vel op sy liggaam oor nie. Gelukkig is hy ʼn fris, sterk man.”

Coetzee vertel dat Jaco oorgeplaas moes word na ʼn ander hospitaal, maar nie met die ambulans vervoer wou word nie. “Ek het hom toe gaan haal en hy lê nou in Life Wilgers-hospitaal in Pretoria in ʼn algemene saal.”

Coetzee sê hy hoop Jaco sal voor Saterdag ontslaan word sodat hy sy [Albert] se verjaarsdag saam met hom kan deurbring.

Volgens hom is Jaco se bakkie “sy kantoor”, aangesien hy in die boubedryf is. “Al sy gereedskap, selfoon, beursie, kaarte, ens. is gesteel. Sy Isuzu-bakkie met die nommerplaat FMM 245 MP is ook gesteel.”

Kapt. Bettina Zondo, woordvoerder van die polisie, het gesê daar is nog nie so ʼn saak by die polisie aangemeld nie. “Van die beamptes hier is bewus van die voorval, maar daar is nog nie so ʼn saak aangemeld nie – dalk is dit omdat hy nog in die hospitaal is,” het Zondo gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Theresa ·

Meld asb. die saak aan. Dis ‘n misdadiger wat jou dood kon veroorsaak het en dalk iemand anders s’n nog gaan veroorsaak. Sterkte met die gesond word!

Chris Ws ·

Waarom besoek die polisie hom nie in die hospitaal en kry sy verklaring by hom nie?Want hy is blank!

Frikkie Geld en huis ·

Hoop hy herstel volkome. Dit wil voorkom asof die kaper ‘n fris, sterker man is. Of was hy gewapen ??

Vleisie ·

Die polisie moes op dag van “Hi-Jacking n skeleton saak oopgemaak namens klear, want die voorval kan later n moord saak wees , as slagoffer beswyk aan sy wonde. Swak werk van die polisie wat op toneel was.

JE ·

Snaaks dat die polisie nou kommentaar lewer omdat die saak nog nie aangemeld is nie. Ek was vanmiddag in Secunda in die polisiestasie se aanklag kantoor toe ‘n vriend van hom die saak aanhangig wou maak. Daar is vir hom gesê dat die beseerde man self die saak moet kom open en wou die man glad nie help nie. Ek wonder nounet hoe nou gemaak, as mens vermoor word en jy nie self na die polisie kan gaan om die saak aan te meld nie… Dit klink vir my effe belaglik en onakkuraat?

Pop ·

JE jy moet die nonsens gan aangee. Want jys reg, as mens nou dood is, dan wat dan.

JE ·

Die antwoord wat ons van ‘n stewige, gesette mev konstabel gekry het toe ons haar bevraagteken en vra of hulle die stasie bevelvoerder kan roep: “Come tomorrow between 7 and 4 when he is on duty and he will tell you the exact same thing”. En dit sê sy met ‘n hengse houding. Ek moes loop voor ek myself vervies, want raak mens kwaad dan help ons liewe land se staatsamptenare mens mos glad nie… sy vriend wou slegs die saak raportteer omdat mens ‘n misdaad binne 48 uur moet aanmeld, waarvan sy niks wou weet nie.

Naar ·

Absoluut siek! Watse verskoning van ‘n mens doen so iets verskrikliks aan iemand? Posisioneer hom om weer met die motor or hom te ry – vir seker om hom te vermoor!

anoniem ·

JE kry haar naam en van magsnommer die statsie se naam en sommer ook die stasie bevel voeder se naam magsnommer en telefoon nommer en le n klag by ipid hul mag glad nie weier om saak te open nie

M ·

Was so maand terug ook by Secunda aanklag kantore om n diefstal saak oop te maak teen die ou wat by ons gehuur het wat met van ons meubels weg is…toe mnr lekker op sy foon besig is terwyl ek situasie verduidelik en sal hy vir my se ek kan nie n saak oop maak nie want ons ken die ou….?? Secunda se polisiestasie is so useless soos kan kom!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.