Man ernstig in verbyry-skietery beseer

’n Man is Dinsdag ernstig in verbyry-skietery in Milnerton in die Wes-Kaap beseer. (Foto: ER24 / Russel Meiring)

’n Man is Dinsdag ernstig beseer toe hy in ’n koeëlreën buite die Joe Slovo-taxistaanplek naby Milnerton in die Wes-Kaap vasgevang is.

Volgens Russel Meiring, woordvoerder vir ER24, is daar helder oordag in die verbyry op die man se motor losgebrand.

“Nooddienswerkers van ER24 het by ’n nabygeleë hospitaal geparkeer toe hulle skote hoor klap. Hulle het hulle onmiddellik na die toneel gehaas waar hulle ’n ligte voertuig vol gate in die middel van die pad teen ’n trok gewaar het.

“Die man het met veelvuldige skietwonde in die motor gelê.”

Volgens Meiring is die man op die toneel behandel waarna hy in ’n ernstige toestand na die Mediclinic Milnerton vervoer is. Hy is kort daarna na ’n ander hospitaal oorgeplaas.

“Dit is nie duidelik wat tot die skietery gelei het nie. Plaaslike polisie was egter op die toneel om ondersoek in te stel.”

Kol. André Traut, polisiewoordvoerder, sê die voorval word tans ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Nie Verbaas ·

Taxi eienaars doen wat hulle wil want hulle word nie soos dit behoort, in bek geruk nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.