Man gee hom oor ná bedrog, diefstal by munisipaliteit

Kgotso Moses Khumalo en Cyril Hendry toe hulle tydens ‘n vorige geleentheid by die hof aangekom het (Oktober 2020) (Foto verskaf deur die Valke)

Mohau Shuping (37), opsigter vir sportfasiliteite by die JB Marks-munisipaliteit in Noordwes, het homself Maandag aan die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke) oorgegee. Hy is die derde verdagte wat beskuldig word van bedrog en diefstal in die munisipaliteit.

Shuping is vrygelaat op ʼn waarskuwing en mag nie kontak maak met enige van die getuies of die munisipaliteit besoek nie.

Maroela Media het vroeër berig Kgotso Moses Khumalo (52), die uitvoerende burgemeester van die munisipaliteit wat Potchefstroom en Ventersdorp bedien, en Cyril Hendry (54), die direkteur van munisipaliteit, is Vrydag deur die Valke in hegtenis geneem. Hulle het reeds in die Potchefstroom-landdroshof verskyn op aanklag van bedrog en diefstal.

Die inhegtenisnemings spruit uit ondersoeke wat deur die Valke na ʼn trustrekening gedoen is, waarin ʼn totaal van ongeveer R5 miljoen wat vir die JB Marks-munisipaliteit bedoel was, gedeponeer is. Die geld is egter nooit aan die ouditeur-generaal verklaar nie.

Verdere ondersoek het aan die lig gebring dat verskeie betalings glo uit die trustrekening in die verdagtes se persoonlike bankrekeninge gemaak is. Daar word beweer dat daar ʼn wanvoorstelling van die geld in die trustrekening was om te lyk asof dit gebruik word om dienste te betaal wat aan die munisipaliteit gelewer is, terwyl fakture na bewering vervals is.

Kgotso Khumalo (Foto: JB Marks-munisipaliteit/Facebook)

In sommige gevalle is daar glo geld in diensverskaffers se rekeninge betaal vir dienste wat nooit gelewer is nie en sou die verdagtes dan glo die geld by die diensverskaffers kry.

Die drie beskuldigdes moet op 1 Desember weer in die Potchefstroomse landdroshof verskyn.

Chris Hattingh, hoof van die DA in die munisipaliteit, het in ʼn verklaring gesê Khumalo moet onmiddellik bedank. Indien hy versuim om dit te doen, sal die Demokratiese Alliansie ʼn verdere mosie van wantroue teen hom indien.

“Dit is verregaande dat die ANC beweer hy is geskok oor die inhegtenisnemings. Die DA het al herhaaldelik die ANC bewus gemaak van finansiële wanadministrasie waarby Khumalo en ander amptenare geïmpliseer is,” het Hattingh bygevoeg.

Khumalo het vantevore drie mosies van wantroue, wat deur die DA teen hom ingedien is, oorleef.

“Die DA sal voortgaan met die veldtog om die JB Marks-munisipaliteit skoon te maak om verantwoordbaarheid en die oppergesag van die reg in die munisipaliteit te herstel. Intussen sal die DA ook voortgaan om kriminele klagtes te lê om, waar nodig, verantwoordbaardheid deur die strafregstelsel af te dwing.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Persheks Adri

R5 miljoen bedrog en jy kry ‘n waarskuwing? ANC is geskok nee julle skok ons elke dag met julle planne van plunder. Ek is so moeg tot my moeg is moeg vir die klomp

Genis

Moet asb tog net nie n hof bestorm nie… dan het jy moelikheid…

Hennie J

Good morning my people. Please do not worry to much about being caught. Your actions are very common amongst us and the end result will feature prominently on your CV when you are redeployed to parliament. PS Unfortunately jobs in the diplomatic corps are reserved for more senior people than you.