Man gee hom oor ná Comrades-tref-en-trap

Johan Doubell. Foto: Facebook

ʼn Man het hom aan die polisie oorgegee in verband met ʼn voorval Sondagoggend toe ʼn vrywilliger by die Comrades-marathon kritieke beserings opgedoen het nadat hy in ʼn tref-en-trap-ongeluk raakgery is.

Johan Doubell (51), ʼn produksiebestuurder vir ʼn chemikalieë-maatskappy, word in die waakeenheid van die St. Anne’s-hospitaal in Pietermaritzburg behandel nadat hy veelvuldige beserings in die ongeluk opgedoen het.

Lt.kol. Thulani Zwane, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media bevestig ʼn 51-jarige man het hom Dinsdagoggend by die Alexandra-polisiestasie oorgegee in verband met die voorval. Hy is op waarskuwing vrygelaat. “ʼn Saak van roekelose en nalatige bestuur en versuim om op ʼn ongelukstoneel stil te hou is aanhangig gemaak. Die dossier sal nou na die direkteur vir openbare vervolging gestuur word om te besluit of iemand vervolg moet word,” het Zwane gesê.

Maroela Media het vroeër berig Doubell was vroeg Sondagoggend besig om ʼn waterpunt in Ashburton op te stel toe hy deur ʼn ligblou bakkie getref is. Die bestuurder het onmiddellik, sonder om stil te hou, van die toneel gevlug. Doubell het kritieke beserings opgedoen, waaronder sy regteroogbank wat gekraak is, wangbeen wat gebreek is, gebreekte ribbes en een van sy longe wat platgeval het. Hy het ʼn jaar gelede ʼn knievervanging in sy regterbeen gehad en dié knie het in vyf stukke gebreek. Doubell se linkerbeen is ook gebreek.

Doubell is Woensdag geopereer om onder meer ʼn pen in sy regterbobeen te sit. Madalein Doubell-Stoltz, Doubell se suster, het Woensdagaand in ʼn Facebook-inskrywing gesê daar is in albei sy bene penne ingesit en dit gaan “baie beter” met hom. “Hy het hom sommer self afgehaal van die ventilator. Môre [Donderdag] gaan hy in sodat hulle aan sy gesig kan werk. Jul liefde en ondersteuning word baie waardeer,” het sy geskryf.

Erika Kapp, Doubell se verloofde, het ook op Facebook mense bedank vir hul gebede en boodskappe van ondersteuning. “Ek en Johan waardeer dit opreg! Ons dien voorwaar ʼn wonderlike God!”

Doubell se vriende het ʼn geldinsameling van stapel gestuur om sy mediese onkoste te help dek. Hulle hoop om R100 000 in te samel om Doubell te help. Teen Donderdagoggend is net meer as R8 500 ingesamel. Vir meer inligting besoek die Back a Buddy-webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Se wat? ·

Askies, moet iemand besluit of die skuldige vervolg moet word nadat hy soos n lafaard wegry???? Op n waarskuwing vrygelaat? Ek verstaan nie hoe nie. Iemand is in die hospitaal met erge beserings en dit? Die is belaglik! Hoop vir volle en speodige herstel!

Kiepie ·

Ag Maroela help tog asseblief julle lesers reg. Die man is vrygelaat terwyl die ondersoek aan die gang is en daar besluit word waarvoor hy alles aangekla moet word. Daar is sekere regsaspekte wat verhoed dat hy nou reeds in hegtenis geneem mag word soos bv. dat hy nie langer as 72 uur aangehou mag word sonder om formeel aangekla te word nie, wat nie kan gebeur voordat die ondersoek afgehandel is nie. Hy sal beslis later formeel aangekla word en sy dag in die hof kry

Annie ·

Hy moet vervolg word – hy is skuldig. Einde van saak !!!!!!!!!!!!!!!!!!!

Skyspy007 ·

Kiepie, waar kry jy jou lisensie, Pep of Pick and Pay….? Jy mag nie die toneel verlaat van ‘n ongeluk nie, PUNT. Dit is ‘n onmiddellike strafbare oortreding.

Allie ·

Hy het ten minste die regte ding gedoen en homself oorhandig aan die polisie.

Johnnie ·

Daai bestuurder was defntief onder die invloed van alkol toe dit gebeur het , dis hoekom hy weggejaag het en nou dat hy nugter is gaan gee hy hom oor want hy weet dat hy nou lig daarvan gaan afkom as toe hy gedrink was. Sterkte Johan ons almal wens jou n spoedige herstel toe.

Jaap ·

Hoe in die lewe werk dit.
Jy ry iemand raak en ry net weg.Dan voel jy skuldig en gaan polisie toe en kry waarskuwing.
Asb tog dit moet erens ernstig wees.
Net in SA

Colleen ·

Nou dink ek het ek al alles gesien en gehoor. En sou die beseerde beswyk aan sy wonde, siende dat hy in ‘n ernstige toestand in die hospitaal is, gaan daar ook nog besluit word of hy vervolg gaan word?

Nee poging tot moord ·

Versuim om stil te hou of nooddienste te ontbied behoord as poging tot moord gesien te word.

jaco ·

dis jammer eks wit. anders het ek lankal by die EFF aangesluit en radikaal betoog teen hierdie reusagtige tariewe vir mediese versorging, operasies ens. is dié man se operasies nou regtig R100 000 werd? Iewers sit ‘n paar mense lekker in ryk word uit hierdie hoë mediese tariewe. Ek twyfel of al daardie geld NET gebruik word vir mediese toerusting, instandhouding van hospitale, salarisse ens.

Irene Myburgh ·

Daar staan “of iemand aan gekla gaan word” nie dat daar gesien moet word vir wat hy aan gekla moet word nie.

Miskien daarom die reaksie van mense

jakes ·

Kiepie, jou argument is ongelukkig power. Die verdagte het weggejaag nadat hy Doubelle getref het. Klaar n misdaad gepleeg of het die slagoffer die verdagte beveel hy kan maar ry en moet hom net later by die polisie aanmeld? Wat se ondersoeke moet nou eers gedoen word voordat hy gearresteer word? Hy het self erken dat hy die persoon is wat Doubelle getref het?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.