Man gee homself oor ná 15-jarige se skietdood

Betogers Dinsdag by die vragmotor se wrak. Foto: Verskaf

ʼn 46-jarige man het homself aan die polisie oorgegee nadat ʼn 15-jarige seun Dinsdagoggend tydens ʼn gewelddadige betoging in Lichtenburg in Noordwes doodgeskiet is.

Brig. Sabata Mokgwabone, provinsiale polisiewoordvoerder, het bevestig die man het homself omstreeks 22:00 in die teenwoordigheid van sy prokureur oorgegee. Mokgwabone het gesê die man sal na verwagting Donderdag in die Lichtenburg-landdroshof op ʼn aanklag van moord en twee aanklagte van poging tot moord verskyn.

Peet du Plessis, die man se regsverteenwoordiger, het Woensdag aan Maroela Media gesê sy kliënt, ʼn inwoner wat buite die dorp bly en in die boubedryf is, is in aanhouding by die Lichtenburg-polisie.

“Ek kan nie te veel oor die voorval uitbrei nie, aangesien dit sub judice is. Ons gaan probeer dat hy vandag [Woensdag] in die hof verskyn om sy kant van die saak te stel, maar het ingestem om die polisie tyd te gun om hul aanvanklike ondersoek te doen,” het Du Plessis gesê. Die man se naam mag nie bekend gemaak word alvorens hy in die hof verskyn het nie.

Volgens onbevestigde gerugte is die man se voertuig glo met klippe bestook en het hy skote afgevuur om homself en sy kind te verdedig.

Die polisie het intussen die 15-jarige seun as Spencer Tshukudu van Blydeville geïdentifiseer.

Maroela Media het vroeër berig Tshukudu, vermoedelik een van die betogers, is Dinsdag omstreeks 08:00 op die Boikhutso/Lichtenburg-pad geskiet.

“Die bestuurder van ʼn wit voertuig het naby Shukran op betogers geskiet en die seun noodlottig gewond. Twee mense, onderskeidelik 17 en 20 jaar oud, is gewond en na ʼn hospitaal geneem,” het Mokgwabone toe gesê.

Die voorval volg nadat ʼn groep inwoners van Blydeville vroeër die oggend die dorp se strate ingevaar, verskeie paaie met voorwerpe versper en ook ʼn vragmotor aan die brand gesteek het. Die inwoners betoog glo oor ʼn tekort aan dienslewering en bewerings van korrupsie in die munisipaliteit. Die spanning in die dorp het vererger nadat nuus oor die seun se dood versprei het. Van die paaie is steeds vir verkeer gesluit en motoriste moet van alternatiewe roetes gebruik maak.

Lt.genl. Baile Motswenyane, provinsiale polisiekommissaris, het die dade van openbare geweld veroordeel en die publiek versoek om nie eiendom te beskadig of reg in eie hande te neem nie.

“Ons versoek lede van die gemeenskap om kalm te bly en die polisie toe te laat om albei voorvalle te ondersoek. Ons wil dit ook duidelik maak dat geen geweld geduld sal word nie. Die polisie sal nie huiwer om teen enige persoon op te tree wat nie die wette van die land respekteer nie,” het Motswenyane gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

62 Kommentare

jongste oudste gewildste
Leon

As hulle sy voertuig met klippe bestook het, terwyl sy seuntjie by hom in die voertuig was, was hul lewens in gevaar, en het hy die reg om hul te beskerm! Dis sekerlik selfverdediging. Tensy ‘n persoon nou nie meer die reg tot selfverdediging het nie!

SjN

Hoop en vertrou die saak word uit gegooi, moet jy net staan en kyk hoe jou lewe in gevaar gestel word.

Ronel

Wat soek ‘n 15 (en 17)jarige in elk geval by die betogings?
Die man in die bakkie het hom en sy seuntjie net beskerm. Of mag mens dit nie meer doen nie?

michelle

Hy was seker oppad skool toe petro, baie mense was laat vir hul kinders se skool agv die betoging. Hy bly buite die dorp so hy moet inry skool toe om sy kind te kom aflaai.

Didi

HOU OP KLIP GOOI en ander mense se lewens in gevaar stel dan sal daar nie lewensverliese wees nie. Vreemd dat die protesgangers wat trokke uitbrand en menigmaal die arme bestuurders aanrand of selfs doodmaak NOOIT vervolg word nie, maar moet jouself NET NIE teen die klipgooiende massa verdedig nie .. dan sal jy aangekla word vir moord. WAT SOEK DIE KIND DAAR? My simpatie vir protesgangers wat seerkry het heeltemal getaan, want die onskuldige mense wat aangeval en gedood word en hulle eiendom vernietig word se aanvallers kom SKOTVRY daarvan af. Dis tyd dat die REGSTELSEL in SA bietjie… Lees meer »