Man gee homself oor ná hy glo getuie skiet

Rameez Patel en sy vrou Fatima (Foto: Facebook)

Ali Sulmani (22) het homself Woensdag aan die Mankweng-polisie in Limpopo oorgegee nadat hy glo Razeen Patel geskiet het, ʼn dag voor Patel teen sy broer in ʼn moordsaak sou getuig.

Razeen is op 15 Julie 2018 geskiet. Hy is na ʼn hospitaal gehaas waar hy tans aansterk. Die motief vir die skietery word nog ondersoek.

Sulmani het in die Mankweng-landdroshof verskyn en sy saak is tot 26 Julie uitgestel waar hy na verwagting sal aansoek doen om borgtog.

Die polisie se ondersoek duur voort.

Razeen sou Maandag in die Polokwane-hooggeregshof getuig teen sy broer, Rameez Patel, die sakeman van Polokwane wat aangekla word van die moord op sy vrou, Fatima Patel (28) en verdink word van die moord op sy ma.

Maroela Media het vroeër berig Rameez is op 30 September verlede jaar in hegtenis geneem nadat sy ma, Mahejeen Banu Patel (51), in September by haar huis in Polokwane geskiet is. Sy is later in die hospitaal dood.

Patel was toe reeds uit op borgtog nadat hy vroeër in hegtenis geneem is in verband met die moord op sy vrou, Fatima, wat op 10 April 2015 in die egpaar se huis in Nirvana gewurg en doodgeskiet is.

Mashudu Malabi-Dzhangi, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in Limpopo, het gesê die saak teen Rameez is Maandag voorlopig tot 17 September uitgestel om Razeen kans te gee om te herstel aangesien hy in albei hande asook sy kop geskiet is.
Die verhoor teen Rameez in verband met die beweerde moord op sy ma sal op 30 Julie in die distrikshof in Polokwane voortduur.

Rameez se pa, Feroz Patel (54), is ook in Augustus 2016 in die Ladine-nywerheidsgebied in Polokwane in sy motor doodgeskiet. Die ondersoek na dié voorval duur steeds voort.

Lees alle vorige berigte oor Rameez Patel op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.