Man gee homself oor ná sakeman se skietdood

misdaad-polisie-crime-scene-kent-williamson-5

Argieffoto: Kent Williamson

ʼn Vierde verdagte wat verdink word van die moord op ʼn sakeman van Polokwane het homself Dinsdag aan die polisie oorgegee.

Die 44-jarige man het by die Polokwane-polisiestasie aangemeld oor sy beweerde betrokkenheid in die skynbare sluipmoord op Ngwako William Mathebula in Februarie vanjaar.

Volgens kol. Moatshe Ngoepe, woordvoerder van die polisie, het die verdagte reeds gister in die Polokwane-landdroshof verskyn op aanklag van moord. Sy saak is tot 12 Junie uitgestel wanneer hy na verwagting om borgtog sal aansoek doen.

Mathebula (46), die eienaar van ’n veiligheidsmaatskappy, is vroeër vanjaar in sy huis in Florapark voor sy seun koelbloedig doodgeskiet.

Die drie ander verdagtes, Mathebula se vrou, Nakedi Nelley Mathebula (42), Johannes Matlala (41) en Simon Ramela (40), het reeds kort ná die moord in Februarie in die hof verskyn op aanklagte van moord en sameswering tot moord.

Maroela Media het vroeër berig dat Mathebula se seun op pad was skool toe, toe drie verdagtes hom voorgekeer het en terug in die huis ingedwing het. Die seun en ’n huiswerker is in die kamer van die oorledene ingedwing, waarna Mathebula verskeie kere ten aanskoue van sy seun geskiet is.

Mathebula was die eienaar van Thaba Security Services in Polokwane.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.