
Die Helen Joseph-hospitaal in Auckland Park, in die weste van Johannesburg, het eers as die J.G. Strijdom-hospitaal bekendgestaan. Foto: Facebook
Die Gautengse departement van gesondheid het Maandag ’n klag by die polisie gaan lê teen ’n man wat hom by die Helen Joseph-hospitaal in Johannesburg as ’n mediese dokter voorgedoen het. Hy het glo in die hospitaalgange rondbeweeg en inhoud vir sosiale media saamgestel terwyl hy voorgegee het dat hy in diens van die hospitaal is.
Motalatale Modiba, woordvoerder van die departement, bevestig die klag volg ná berigte van ene “dr. Matthew Lani” wat verskeie mediese rolle aanneem en homself valslik as ’n werknemer van die departement voordoen.
Verdere ondersoeke het aan die lig gebring dat die naam “dr. Sanele Zingelwa”, die naam wat Lani beweer sy regte naam is, dié van ’n tweedejaar‑ mediese intern by die Tembisa-hospitaal is. Die ware dr. Sanele Sobani Vambani Zingelwa het sedertdien ’n saak van identiteitsbedrog by die polisiestasie in Tembisa aanhangig gemaak.
“Die departement het op 16 Junie 2022 ’n veldtog in sy fasiliteite gevoer as deel van Jeugmaand-herdenkings waar jong mediese beroepslui gevra is om hul videogrepe in te stuur oor wat dit vir hulle beteken om vrygebore te wees (gebore ná 1994). Lani was een van die deelnemers, en dit was die enigste keer dat die departement ooit saam met hom gewerk het. Daar was toe niks wat die vermoede laat ontstaan het dat hy nie ’n persoon in diens van die fasiliteit was nie,” sê Modiba.
Lani het in Oktober verlede jaar ’n video gemaak waarin hy kla oor die wanbetaling as ’n mediese intern by die Helen Joseph-hospitaal. Die klagte het die departement se aandag getrek en is na die bestuur van die hospitaal verwys om die saak te ondersoek. Lani is daarna deur die hoof van die hospitaal gekontak en gevra om hom by die fasiliteit se menslikehulpbroneenheid aan te meld om sy klagte te bespreek.
Hy het toe bevestig dat sy saak aandag geniet en het selfs die video wat hy destyds op TikTok geplaas het, uitgevee omdat hy gevoel het dit trek onnodig aandag.
“Die departement het ook verneem dat Lani onder die naam ‘dr. Sanele Zingelwa’, wat hy beweer sy regte naam is, ’n storie versin het oor ’n groot aantal mense wat in die Helen Joseph-hospitaal opgeneem is nadat hulle ’n spesifieke gewigsverliespil geneem het. Dit het daartoe gelei dat die Suid-Afrikaanse Gesondheidsprodukte Regulerende Owerheid (Sahpra) die saak in Augustus vanjaar ondersoek het en uitgevind het dat die voorval versin is.
“Die voorval het die dringende behoefte verhoog om toegangsbeheer oor al ons fasiliteite heen te versterk en om werknemersidentifikasieprosesse te verbeter.”
’n Klag is teen Lani gelê ingevolge die Wet op Gesondheidsberoepe, Wet No. 56 van 1974. Die wet bepaal dat om as ’n gesondheidswerker te praktiseer, terwyl hy of sy nie by die Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika geregistreer is nie, ’n kriminele oortreding is.
Nee rerig. Party mense het net te veel tyd op hulle hande.
As jy nou onnosel wil wees maar nie weet hoe nie …
Ons het deesdae ook soveel professore dat sulke hogere sertifikate glo aan die min kant raak. Dalk kan poskantore ook help met die uitdeel.
annie, skerp! As die Poskantoor betrokke raak … wel, dan gaan alles verlore!
Ons spandeer te veel tyd op sosiale media en hang aan sogenaamde professionele mense se lippe. Want kritiese denke is by die agterdeur uit. Ons wil gesê word hoe om te dink. Almal is deesdae kenners van alles. Die tipe ding sal net meer gebeur
En?….sal “Dr” toegelaat word om verder te studeer? As hy nou al oneerlik is, wat gaan volg wanneer hy as dokter gaan praktiseer?
Hy is niks in die mediese veld nie. Ook nie n mediese student nie