Man gered ná hy 10 m van krans val

Foto: NSRI

ʼn Man wat Saterdag van ʼn krans in die omgewing van Victoriabaai naby George in die Suid-Kaap geval het, is in ʼn ernstige maar stabiele toestand in die hospitaal.

Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) is omstreeks 13:26 van die voorval ingelig waarna die seereddingsvaartuig Clemengold Rescuer en NSRI-bemanning onmiddellik na die toneel gehaas het.

Volgens Craig Lambinon, woordvoerder van die NSRI, is die provinsiale nooddienste en die George-munisipaliteit se brand- en reddingsdienste ook ontbied.

Foto: NSRI

“Die man se vriendin het alarm gemaak nadat hy van die krans afgeval het en branderplankryers in die omgewing het die NSRI ontbied.”

Met die NSRI se aankoms is die man aan die voet van die krans aangetref waar hy op klippe te lande gekom het. Die man het vermoedelik gegly en toe omtrent 10 m ver van die krans afgetuimel.

“ʼn Dokter, wat met vakansie is en toevallig in die omgewing was, was reeds besig om die 30-jarige man te behandel.”

Foto: NSRI

Paramedici het intussen ook op die toneel aangekom en die man begin behandel. Volgens Lambinon is ʼn EMS/AMS Skymed-reddingshelikopter ontbied aangesien die terrein moeilik begaanbaar is.

Die man is op ʼn gespesialiseerde draagbaar geplaas en deur die reddingshelikopter opgehys. Die helikopter het by ʼn kampeerterrein geland waarna die man in die helikopter gelaai is en na ʼn nabygeleë hospitaal vervoer is.

“Hy is in ʼn ernstige maar stabiele toestand in die hospitaal opgeneem en sal na verwagting ten volle herstel,” het Lambinon gesê.

Die NSRI het sy dank uitgespreek teenoor die dokter wat op die toneel bystand gelewer het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

JohanL ·

Dankie aan die paramedici en NSRI – almal het ingespring en hul deel gedoen.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.