Man gered wat gyselaar in bakkie gehou is

(Argieffoto)

ʼn Man wat in sy eie bakkie deur ʼn groep verdagtes gyselaar gehou is, is Saterdag deur die Durbanse blitspatrollie gered.

Volgens kapt. Nqobile Gwala, polisiewoordvoerder, het die lede omstreeks 13:30 langs Hunslet-weg in Phoenix gepatrolleer toe hulle ʼn bakkie met agt insittendes gewaar. Die bestuurder van die bakkie het roekeloos bestuur.

“Die lede van die blitspatrollie het probeer om die voertuig te onderskep om die bakkie van die pad af te trek, maar hulle het egter net vinniger gery,” bevestig Gwala.

“Die polisie het die bakkie agternagesit tot op die hoek van Malandela- en Musa-weg in die KwaMashu-nedersetting, waar die bakkie teen die sypaadjie vasgery en tot stilstand gekom het.”

Volgens Gwala het ses verdagtes uit die bakkie gespring en te voet gevlug. ʼn Skietgeveg het in die proses tussen die polisie en die verdagtes uitgebreek. Die verdagtes het egter daarin geslaag om weg te kom.

Die polisie het twee insittendes in die bakkie aangetref. Een van die mans was die eienaar van die bakkie en is deur die verdagtes gyselaar in die voertuig gehou.

Dié man het die polisie ingelig dat die verdagtes hom beroof het en daarna agterin sy bakkie gedwing het. Die man beweer dat die verdagtes hom beveel het om te ry.

“Volgens die man het die verdagtes ʼn vuurwapen op hom gerig en gedwing om die voertuig te stop. Hulle het die voertuig se sleutels, bankkaarte en PIN-nommers geëis. Hulle het die man daarna agterin die bakkie gedwing.”

Gwala sê die verdagtes is daarna na ʼn kitsbank waar hulle met die man se bankkaarte geld onttrek het.

Die een verdagte wat wel in hegtenis geneem is, Ndumiso Minenhle Xhakaza (24), het Maandag in die landdroshof op Ntuzuma verskyn. Hy het verskyn op aanklagte van gewapende roof, poging tot moord en die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie.

Hy sal na verwagting weer op 28 September in die hof verskyn om dan formeel om borgtog aansoek te doen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Hasie ·

Die Suid Afrikaanse polisie kan nie eers verkoue in die winter vang nie .

Kokerboom ·

Kan iemand maar nie die SAP beter wapenopleiding gee…dis NIE ” cowboys and crooks speel-speel” daarbuite

Harley Davidson ·

Die ontvoering en gyselaar hou blyk nou ‘n nuwe manier van skelm wees in SA

Swerwer ·

Die hele SAPD is korrup net soos die res van die ANC. Raak ontslae van die ANC

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.