Man geskiet dag voor hy teen broer moet getuig

Rameez en Fatima Patel. Foto: Facebook

Rameez Patel, die sakeman van Polokwane wat aangekla word van die moord op sy vrou en verdink word van die moord op sy ma, se broer is Sondag geskiet.

Kol. Moatshe Ngoepe, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê die man, wie se identiteit nie in dié stadium bekend gemaak mag word nie, is Sondagoggend op die R71 tussen Mankweng en Polokwane naby die Makgeng-nedersetting geskiet.

Die polisie ondersoek ʼn saak van poging tot moord. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Ngoepe het gesê die polisie kan in dié stadium nie meer inligting bekend maak nie omdat “kwessies rakende dié slagoffer sub judice is”. Ngoepe wou net bevestig die slagoffer is nou “veilig”.

Mashudu Malabi-Dzhangi, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in Limpopo, het Maandagoggend aan Maroela Media bevestig die man was veronderstel om Maandag in die Polokwane-hooggeregshof téén sy broer te getuig in die verhoor waarin Patel aangekla word van die moord op sy vrou, Fatima Patel (28).

Maroela Media het vroeër berig Patel is op 30 September verlede jaar in hegtenis geneem nadat sy ma, Mahejeen Banu Patel (51), in September by haar huis in Polokwane geskiet is. Sy is later in die hospitaal dood.

Patel was toe reeds uit op borgtog nadat hy vroeër in hegtenis geneem is in verband met die moord op sy vrou, Fatima, wat op 10 April 2015 in die egpaar se huis in Nirvana gewurg en doodgeskiet is.

Malabi-Dzhangi het gesê die saak is Maandag voorlopig tot 17 September uitgestel om die broer kans te gee om te herstel aangesien hy in albei hande asook sy kop geskiet is.

Die verhoor teen Patel in verband met die beweerde moord op sy ma sal op 30 Julie in die distrikshof in Polokwane voortduur.

Rameez se pa, Feroz Patel (54), is ook in Augustus 2016 in die Ladine-nywerheidsgebied in Polokwane in sy motor doodgeskiet. Die ondersoek na dié voorval duur steeds voort.

Lees alle vorige berigte oor Rameez Patel op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Mamma ·

Enigiemand wat enigiets met hierdie saak te doen het, moet beskerming kry. Patel is meedoënloos en ‘n gevaar vir die samelewing. Sy ma, pa en vrou is al dood en sy broer het TWEE keer vir sy lewe gevlug voordat hy hom ook gekry het.

Lollie ·

Ek dink Patel het nog ń moord op sy kerfstok! Alles is so duidelik want as hy sy vrou en ouer kan vermoor waarom dan nie sy boetie ook wat teen hom wil getuig nie!

marous ·

Dit moet darem vreeslik wees vir die arme man , dat almal so na aan jou val aan die hand van geweld. Die vrae maal sekerlik onophoudelik deur sy kop ….of dalk nie

Jaco kyk mooi ·

ALMAL wat met die ou tedoen het word om 1 of ane rede vermoor of kry tedoen met geweld. Hierdie ou ( Rameez) is n gevaar vor almal selfs al is hy agter tralies. Kan n mens dit ooit veander sonder doodstraf?

Polokwane ·

Hoekom hulle name nou nie bekend gemaak mag word nie is n grap . In polokwane is hulle name elke week top nuus.

MARIUS ·

Een ding staan soos n paal bo die water uit. Die man is nie n familie man nie!

Kenner Plk ·

Jong Hierdie Patel is baie meer betrokke as wat mense bekend maak in die media. Sy vrou is vermoor, sy Pa eb sy Ma en nou n poging op sy broer se lewe. Hierdie man ken blykbaar veel meer mense as wat nodig is om te ken vanuit die tronk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.