Man geskiet ná hy in hof verskyn

Argieffoto

Die polisie ondersoek ʼn saak van poging tot moord ná ʼn skietvoorval Woensdag buite die Kimberley-landdroshof in die Noord-Kaap.

Die man is geskiet pas nadat hy in die hof verskyn het, het lt.kol. Dimakatso Mooi, polisiewoordvoerder, gesê.

Paramedici is na die toneel, wat deur polisie afgesper is, ontbied. Die man het vyf skietwonde opgedoen, het Russel Meiring, woordvoerder van ER24, gesê. Hy is twee keer in die rug geskiet sowel as in die skouer, arm en bors. Nooddienste het hom op die toneel gestabiliseer voor hy in ’n kritieke toestand na ’n hospitaal geneem is.

ʼn 28-jarige vrou het haar intussen aan die polisie oorgegee en beweer dat sy die slagoffer geskiet het, volgens Mooi. Die motief vir die skietery is in hierdie stadium egter nog onbekend, terwyl die polisie se ondersoek voortgaan.

Die verdagte sal na verwagting binnekort in die hof verskyn op aanklag van poging tot moord.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.