Man geskiet tydens herstel van pypleiding

Argieffoto

’n Personeellid van die Kaapstad-metro se water-en-sanitasiespan is Dinsdag geskiet en gewond terwyl die span ’n rioolpypleiding in Samora Machel herstel het.

As gevolg van die voorval is water- en sanitasiedienste wat verband hou met diensversoeke tot verdere kennisgewing opgeskort en sal spanne terugkeer sodra dit veilig is, het Xanthea Limberg, burgemeesterskomiteelid vir water en afval, gesê.

Die span is glo deur vier tieners van hul besittings, onder meer beursies en selfone, beroof terwyl hulle besig was om die rioolpypleiding in Helen Josephstraat te herstel.

Die toesighouer, wat ook die drywer is, is geskiet en gewond waarna hy na ’n hospitaal gehaas is. Volgens Limberg het die koeël sy ruggraat naelskraaps gemis en sal hy geopereer moet word.

“Die Stad veroordeel hierdie aanval op ons personeel ten sterkste. Dit is gewetenloos om personeellede wat hul werk doen te teiken en die Stad sal alles in sy vermoë doen om die SAPD te help in hul pogings om die skuldiges vas te trek.”

Daar sal in die tyd nie aandag aan waterverwante diensversoeke, soos rioolverstoppings of die herstel van gebarste pype, gegee word nie.

Die voorval kom kort nadat die metro bekend gemaak het dat 25 rioolpompstasies onlangs onder vandalisme of diefstal deurgeloop het. Dit word beraam dat die bedryfskoste, insluitend herstelwerk en die huur van toerusting om rioolvloei te verminder, ongeveer R30 miljoen kan kos.

“Die Stad doen ’n beroep op enigiemand wat inligting het oor die voorvalle om dit so spoedig moontlik by die SAPD aan te meld, sodat hulle ondersoek kan instel. Die gemeenskap moet ons oë en ore wees, want ons kan nie bekostig dat dienslewering aan kwesbare gemeenskappe deur ’n paar opportunistiese misdadigers gekaap word nie,” het Limberg gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Surfer ·

Dis 0,5% van die inwoners (bendes) wat sulke dinge doen, die 99,5% moet swaar kry. nee man, kry n “life”

Elize ·

Daar is nie hoop vir hierdie land nie. Laas week ‘n debat gehad oor al die vullis op straat en die antwoord was: gee ons genoeg tyd dat ons voorvaders die land kan gesondmaak.

Fedup ·

Do not do any repairs.
If they can attack, rob and shoot workers, they might as well for the gure out how to fix the pipes themselves or stay without.

Ansie ·

Draai maar net die water af as daar gebarste waterpype is. Die gemeenskap moet ook begin saamstaan en hierdie kriminele uitrook en aan die polisie oorhandig.

Casper ·

Vier tieners.Hulle is deel van bendes en moet as sulks behandel word.As hy skiet gaan hy geskiet word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.