Man geskiet vir diesel

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: SAPD/Facebook)

Die polisie in Limpopo is op die spoor van ’n groep verdagtes wat Saterdag by ’n dieseldepot in Louis Trichardt na bewering ’n man geskiet en daarna met diesel ter waarde van miljoene rande laat spaander het.

Volgens brig. Motlafela Mojapelo, polisiewoordvoerder, het die bestuurder van die depot – wat diesel in groot maat verkoop – die hek vir ’n vragmotor oopgemaak. Die verdagtes in die vragmotor het voorgegee om diesel te koop.

“Die insittendes van die vragmotor het met vuurwapens uit die vragmotor gespring en die hek se beheerknoppie en selfone van die bestuurder gegryp. Die bestuurder is ook van ’n bedrag kontant beroof,” sê Mojapelo.

“Die verdagtes het die bestuurder in ’n kamer by die depot ingedwing en die kamer se deur gesluit. Vier werknemers van die depot is in aparte kamers toegesluit en van hul selfone beroof.”

Tydens die rooftog is ’n maatskappybestuurder (43) wat in ’n vragmotor by die perseel gesit het, geskiet en ernstig gewond.

“Die verdagtes het daarna met ses vragmotors die depot betree en dit met diesel ter waarde van R5,5 miljoen volgemaak voordat hulle die perseel verlaat het.”

Die polisie is na die toneel ontbied en het die gewonde man daar aangetref. Hy was in ’n ernstige toestand en is hospitaal toe geneem vir verdere mediese behandeling.

“Voorlopige polisieondersoeke het aan die lig gebring dat die registrasieplaat op een van die vragmotors aan ’n Volvo-sedan in Gauteng behoort.”

Enigiemand met meer inligting wat tot die verdagtes se inhegtenisneming kan lei, kan lt.kol. Richard Boshomane by 079 894 5501 of Stop Misdaad by 08600 10111 bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Misky ·

Hierdie skurke se kreatiwiteit en planne om misdade te pleeg, verstom my daagliks. As al daai breinkrag in iets positiefs gesit kon word, sou ons land floreer en kon vooruitgaan.

SjN ·

Die volmaak prosesvan n vragmotor neem n hele ruk, daar was 6, is daar nie insiders betrokke nie?

Herms ·

Daai lot gemorse sal nooit gekry word nie…. Die polisie sal mos nie hulle tyd mors op dit nie.

efjy ·

Is die brandstof depot so afgelee dat niemand anders kon sien/hoor dat ‘n misdaad gepleeg word nie. Ses vragmotors met petrol kan mos ook nie net in die niet verdwyn nie. Die brandstof word sekerlik by ‘n vulstasie of twee gelewer?.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.