Man geslaan, geskiet op Noordwes-plaas

Argieffoto

ʼn Man is in ʼn ernstige toestand in die hospitaal nadat hy Dinsdagaand op ʼn plaas naby Broederstroom in Noordwes aangerand en geskiet is.

Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum, het aan Maroela Media bevestig Willem Joubert (37) is in die hospitaal opgeneem ná die aanval.

Maroela Media verneem vyf aanvallers het omstreeks 21:35 op die plaas toegeslaan en die alarm buite die huis laat afgaan. Joubert het gaan ondersoek instel en is deur die aanvallers oorval.

Hy is glo met ʼn stomp voorwerp geslaan en in sy bolyf geskiet. Joubert het sy bewussyn verloor en inmekaargesak. Die aanvallers het hom daarna vermoedelik in die huis probeer insleep, maar tou opgegooi en hom langs die swembad vasgebind.

Joubert se suster wat in die huis was, kon daarin slaag om die paniekknoppie te druk. Sy het by ʼn agterdeur uit gevlug en by die werkers gaan hulp soek. Sy en een van die werkers het in die veld weggekruip terwyl hulle gewag het vir beamptes van die plaaslike veiligheidsmaatskappy om op te daag.

By die veiligheidsmaatskappy se aankoms op die toneel het die aanvallers met skootrekenaars, selfone en ʼn iPad op die vlug geslaan.

Joubert is daarna na ʼn hospitaal gehaas.

Die provinsiale polisiewoordvoerder kon nie onmiddellik die voorval bevestig nie en Maroela Media wag op terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Lollie ·

Voel so jammer vir hierdie boer vir die onsinnige aanvalle maar magtig waarom wil hulle altyd braaf wees en ondersoek gaan instel? Dit is wat die boosdoeners wil hê! Hoeveel kere word gewaarsku dat jy polisie of die sekuriteit bel? Dit was so onnodig!

Leeu ·

@Lollie, ek stem 100% saam, dis vrek sleg dat dit gebeur, maar ek’t al van kleins af geleer, as jy iets buite hoor, moet NOOIT uitgaan nie, kry iemand om van buite af in te kom. Daar’s soveel tricks wat gebruik word, buite krane oopdraai sodat jy uitgaan om toe te draai

Boerseun ·

Ek bly ook op n plaas,ons sekerutiteit is baie opgeskerp en ons werk met dogs and all wat reaksie eenhede in die rondte het,ons mag onder geen omstandighede ons huise verlaat as n alarm afgaan nie,dit is wanneer meeste mense aan geval en vermoor word,hulle probeer jou uit jou huis lok,maak nie saak of jy gewapen is nie,hulle wag jou in,ek hoop die man word gou gesond en baie sterkte.

Pop ·

En die olisie kan nie kommentaar lewer nie want hulle was seker nog nie daar nie.

PJC ·

Lollie jy is doodreg as jy vra hoekom hy na buite gegaan het. Onder geen omstandighede doen ń mens dit nie. Dit geld op plase dorpe en stede. Jy aktiveer die plaaswag, buurtwag, polisie of wie ook al beskikbaar is om te kom kyk. Intussen bly jy gereed in die huis met jou wapens in geval die aanvallers dit probeer binnedring. Gelukkig het die ou se suster kop gehou. Hoop hy herstel gou.

Onnie ·

Sal mense asb ophou om self ondersoek in te stel as hulle iets buite hoor of ‘n alarm afgaan!!!!!! Laat die polisie en veiligheidsmaatskappye hulle werk doen – bly jy net in jou huis!!

Jacques Venter ·

Aansluitend by bogenoemde kommentare. n Boer word een aand deur een van sy getroue werkers geroep. Dié sê toe hy moet kom een van die stoet koeie is baie siek. Toe hy uitkom sien hy hulle hou n pistool teen die ou verskrikte werker se kop.

So soos almal sê.MOET NIE UITGAAN NIE

PJC ·

Ja Jacques ek stem volkome saam. Selfs ń stoetkoei is nie ń mens se lewe werd nie.

Werner ·

Nie alle boere is bevoorreg om honde eenhede en wat nog te he nie hier waar ons bly is daar nie eers polissie nie so jy moet maar self ondersoek doen anders verloor jy vee of eiendom sorg dat jy goed opgelei word al was jy in die weermag taktiek vd oorlog het verander dan sal jy verbaas wees watter hoe maklik jy so iets oorleef

JohnnyDurbs ·

Boere MOET belê in veiligheidsmaatreëls, naamlik 1. kameras 2. ‘beams’ teen die huis en 3. veiligheids hek in die gang om toegang na kamers te versper. Alarm gaan af voor skelms in die huis is en jy kan sien presies wie en waar die gevaar is.

Rln ·

Kry n groot kwaai hond wat nie eintlik blaf nie, by jou in die huis slaap…. en moenie uitgaan nie…. so jammer hoop die man word gou gesond…

Nella ·

Wat my woedend maak is hoeveel saam mense aanval. 5 in hierdie geval. Hoe moet n mens jouself verdedig teen 5? Ek bid vir die boer se herstel.

Nella ·

5 Aanvallers!!! Hoe kan mens jouself verdedig teen 5. Die aanvallers is nooit mans genoeg om een een toe te slaan

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.