Man gesoek ná ‘huurmoord’ op onderwyser

Frackson Ndou. Foto: Verskaf

Die Limpopo-polisie is op soek na ʼn man wat hulle kan bystaan in hul ondersoek na die beweerde huurmoord op ʼn hoërskoolonderwyser in dié provinsie.

Lt.kol. Moatshe Ngoepe, woordvoerder van die polisie, het Maandag gesê Frackson Ndou (34), ʼn Zimbabwiër, word versoek om hom so gou moontlik by die Tubatse-polisiestasie aan te meld.

Die ondersoek hou verband met die moord op Daniel Ramaipadi (53). Hy is op 22 Julie vanjaar by sy huis in die Ga-Motodi-nedersetting buite Burgersfort vermoor.

Volgens Ngoepe het ʼn onbekende aantal verdagtes Ramaipadi, ʼn voormalige departementshoof, by sy huis doodgeskiet, sy motor gesteel en toe van die toneel gevlug. Die polisie het die voertuig enkele dae later ʼn ent weg van die nedersetting opgespoor.

ʼn Spesiale taakspan is daarna aangestel om die ondersoek te behartig waarna Vuyela Glenrose Ramaipadi (37), die oorledene se vrou, haar kêrel en die beweerde huurmoordenaar in hegtenis geneem is.

“Die provinsiale taakspan, die ondersoekbeamptes en die misdaadintelligensie-eenheid het daarin geslaag om dié baie gekompliseerde moordsaak op te los. Die ondersoekspanne is oortuig die voorval hou verband met ʼn huishoudelike geskil,” het Ngoepe vroeër gesê.

Ngoepe het gesê die polisie ondersoek die moontlikheid dat Ramaipadi se vrou en haar kêrel saamgesweer het om hom te laat vermoor.

Vuyela het verlede Woensdag op aanklag van moord in die Praktiseer-landdroshof in Limpopo verskyn. Sy is borgtog geweier en kan weer op 13 Desember ʼn formele borgtogaansoek voor die hof bring.

Die ander twee verdagtes, Johannes Sewisha Mphego (39) en Mayifo Richwell Moeng (34), het Donderdag in die Praktiseer-landdroshof verskyn. Hul saak is tot Woensdag uitgestel wanneer hulle na verwagting om borgtog sal aansoek doen.

Enigiemand wat weet waar Ndou hom mag bevind of hom iewers teëkom, word versoek om kapt. Richard Boshomane by 079 894 5501 of Stop Misdaad by 08600 10111 te bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

JPV ·

‘n Taakspan word aangestel om die moord te ondersoek. Met plaasmoorde word daar skaars’n vinger geroer.

Mark Mac ·

Ek weet waar Ndou hom bevind. Lankal terug in Zimbabwe…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.