Man gesoek ná moord op speurder

(Argieffoto: pixabay)

Die Valke is op soek na ʼn man van die Inanda- informele nedersetting in Durban om te help met inligting wat verband hou met ʼn dubbele moord in Umkomaas aan die KwaZulu-Natalse Suidkus. Dié voorval het op 4 Maart plaasgevind.

Op dié dag is ʼn 55-jarige polisiekaptein wat by Umkomaas se speurtak werksaam was deur verdagtes in ʼn bewegende motor op die M14 doodgeskiet. “Lede van die Umkomaas-polisie wat die gebied gepatrolleer het, het gesien hoe die verdagtes roekeloos bestuur en het die voertuig in ʼn hoëspoed-jaagtog agterna gesit,” het kapt. Simphiwe Mhlongo, polisiewoordvoerder, in ʼn verklaring gesê.

Die verdagtes het na wat verneem word in die agterkant van ʼn vragmotor vasgery, waarna hulle uit die voertuig geklim en ʼn 33-jarige motoris gekaap en doodgeskiet het. Hulle het toe met die oorledene se voertuig weggejaag.

Die polisie is nou op soek na ʼn man met die naam Andile Michael Nzuza, wat die polisie met die ondersoek kan help. Enigiemand met inligting oor waar Nzuza hom bevind, word gevra om ao. Sibusiso Ntshangase by 071 481 3360 te bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.