Man gesoek oor driejarige se liggaam in stroom

Die rivierstroom waar klein Melania Ndacha Ruben se liggaam gevind is. (Foto: SAPD)

Die polisie is op die spoor van ’n man nadat die liggaam van ’n driejarige dogtertjie Dinsdagaand in ’n rivierstroom in die omgewing van Bela-Bela gevind is.

Klein Melania Ndacha Ruben is vroeër die dag in die sorg van bure in die Vingerkraal-nedersetting gelos waarna sy vermis geraak het.

Kol. Moatshe Ngoepe, polisiewoordvoerder, sê Melania se ma het die bure gevra om na haar om te sien. Melania se ma het later teruggekeer, maar die kind was nêrens te vinde nie. ’n Soektog na haar is gevolglik van stapel gestuur.

Die kind se liggaam is omstreeks 20:00 met oop wonde in ’n rivierstroom in die omgewing aangetref. Sy is op die toneel dood verklaar.

Die motief vir die moord is in dié stadium onduidelik.

Ngoepe sê ’n verdagte in die moord is reeds geïdentifiseer hoewel hy op die vlug is.

Die polisie doen nou ’n beroep op Jeffrey Muronga (27) van Elim naby Makhado om hom by ’n polisiestasie aan te meld om die polisie in die ondersoek te help.

Enigiemand met inligting wat kan lei tot die verdagte se inhegtenisneming kan lt.kol. Richard Makhukhu by 082 565 8603 of Stop Misdaad by 0860 010 111 bel.

Jeffrey Muronga (Foto: SAPD)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Danny ·

Tragies. Ek wil tog noem dat oures – veral in vandag se tye – strenger reels moet hê vir die los van kinders by ander mense, selfs familie. Die wereld is nie ‘n veilige plek vir kinders nie!!!!!!!!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.