Man gesoek vir moord op polisiebeampte, suster

Die Valke in Mpumalanga is op soek na ʼn man met die naam Rassie Nkuna, wat daarvan verdink word dat hy ʼn polisiebeampte en dié se suster vermoor het. Die moorde het reeds op 15 Mei in Kanyamazane buite Mbombela (Nelspruit) plaasgevind.

“Op die betrokke dag was die verdagte en sy meisie, Marcia Mazibuko (43), glo in ʼn stryery betrokke. Mazibuko se suster, sers. Pretty Mazibuko (42), het probeer tussenbeide tree om die situasie te ontlont. Nkuna het egter ʼn vuurwapen uitgepluk en hulle albei na bewering geskiet,” het kapt. Dineo Lucy Sekgotodi, woordvoerder van die polisie in Mpumalanga, gesê.

Die twee vroue is na ʼn nabygeleë hospitaal gehaas, maar is met hul aankoms by die hospitaal dood verklaar. “Die verdagte het van die toneel gevlug en ʼn lasbrief vir sy inhegtenisneming is intussen uitgereik.”

Enigiemand met inligting oor waar die verdagte hom bevind, word aangemoedig om die ondersoekbeampte, lt.kol. Steve Msiza op 082 304 0171 of ao. Mduduzi Mutubatse op 072 195 0185 te bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.