Man gestraf vir mishandeling van troetelapie

Die foto van Elvis is by die Fourways-veeartsenyhospitaal geneem toe hy vir behandeling daar aangekom het. (Foto: NDBV)

ʼn Man wat daarvan beskuldig is dat hy sy mantelaap gruwelik mishandel het, is ná vyf jaar eindelik in die Randburgse landdroshof skuldig bevind en swaar beboet.

Die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV) het reeds in September 2014 ʼn saak teen André du Plessis, die beskuldigde, aanhangig gemaak oor klagtes van verwaarlosing en mishandeling van Elvis, die mantelaap.

Volgens die NDBV het Du Plessis koffie en lekkers aan Elvis gevoer, wat diabetes in die apie veroorsaak het. Du Plessis het Elvis ook in ʼn doek gelos wat ernstige infeksie veroorsaak het.

Die apie is destyds na die Fourways-veeartsenyhospitaal geneem, waar hy reeds in ʼn toestand van ineenstorting was, met onder andere besmette wonde in sy bekkenarea. Die apie het gevrek as gevolg van oorverhitting en hartversaking.

Die NDBV sê die saak het so lank gesloer omdat die dossier twee keer verdwyn het en sewe verskillende ondersoekbeamptes die saak moes hanteer. Die beskuldigde het verdwyn en ’n lasbrief vir sy inhegtenisneming is uitgereik – die beskuldigde is in Januarie vanjaar op die OR Tambo‑ Internasionale Lughawe gearresteer.

Du Plessis is skuldig bevind aan verwaarlosing en het ’n boete van R24 000 of 12 maande gevangenisstraf ontvang, waarvan R18 000 of nege maande gevangenisstraf vir drie jaar opgeskort is.

“Ons het volhard om geregtigheid te verseker vir Elvis en ander eksotiese diere wat soos troeteldiere aangehou word. Dit is onnodig om ape in doeke te sit en dit kan, soos in hierdie geval, beserings veroorsaak.

“Verder het primate die regte voeding nodig, gewoonlik kossoorte wat nié in onnatuurlike en gedomestiseerde omgewings voorsien kan word nie. Sosiale strukture van primate kan ook nie deur menslike eienaars herskep word nie. Ons is steeds van mening dat wilde diere in die natuur hoort,” sê Arno de Klerk, ʼn senior inspekteur en bestuurder van die NDBV se spesiale projekte-eenheid.

Landdros Pravin Raghunandan het in haar uitspraak gesê dat diere beskerming verdien en dat sy Du Plessis se optrede in ʼn ernstige lig beskou.

Die NDBV het ook die Fourways-hospitaal se dr. Leon Nel bedank dat hy die inisiatief geneem het om die saak te rapporteer en as getuie in die saak op te tree.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

SIOUX ·

Daar moet strenger teen sulke mense opgetree word.
Hy het nie verdien om so dood te gaan nie.
Mnr DU PLESSIS jy kan die gode dank dat ek nie die Landdros was nie.

Marna ·

Swaar beboet? Regtig Maroela! R24000 waarvan R18 000 opgeskort is – niks belaglik!

Anoniem ·

#woedend, ek verstaan jy is ontsteld en geregtelik so, maar moet nie n proses pateties noem waarvan jy niks kennis of ervaring in het nie.

Z ·

Regtig is dit maar al en dan word ‘n masiewe deel opgeskort …… Nee die straf ten opsigte van dieremishandeling gaan hersien moet word. Dalk ‘n goeie idee as hulle met die mens doen wat hy /sy aan die arme dier gedoen het…. ek nou sommer boos my hart is sommer seer

Bolla ·

Gooi hom in die tronk en gooi sommer die sleutel weg. Dit is die ergste graad en diere mishandeling

Johanna ·

Maak my ongelooflik hartseer. wat n hel moes hierdie diertjie deurmaak. die staf is te lig. Jou wreedaard, mag jy in die ewige vuur brand!

smurfie ·

Hoekom opgeskort?
Daar moet vir sulke mense ook nie keuse wees tussen boetes en tronkstraf nie. Hulle moet net tronkstraf kry!!!

Terleurgesteld ·

Ek is baie terleurgesteld, eers vat die saak 5 jaar en dan so swak vonnis, en dan wil die landros sê dis’n swaar vonnis? Dis hoekom ons diere so mishandel en verwaarloos word in ons land, nie eers ‘n tik oor die vingers nie, so hoekom sal hulle versigtig wees vir nagevolge?

Johan Maritz ·

T-man woedend se ervaring is dat dit pateties is en ek stem saam met die persoon . Regstelsel is n grap dit is hoekom meeste regsgeleerders hulself kan verryk.

Botha ·

@T-man. Ek het persoonlike ondervinding van die regstelsel, dit juis persoonlik getoets. Dit is korrup en pateties. Ek het die bewyse. Die enigste justice wat jy in ‘n hof kry, is ‘n persoon met die naam van Justice.

Della ·

mense is eintlik diere!!! wat word van daai saak waar die 2 manne die rob so geslaan en geskop het??

Hagar ·

Wat het van daai hoog aangeskrewe boerin geword waarvan bykans haar hele varkboerdey uitgevrek het vanwee verwaarlosing, honger en dors.?

Pieter Perold ·

Dit is n baie hartseer storie. So n’ ligte straf vir so n’ langdurige pyn verbaas my. Daar is elke dag miljoene diere wat so wreed mishandel word, ons weet net nie daarvan nie. Dit breek my hart.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.