Man gestraf wat meer as 50 verwaarloosde diere aanhou

Van die honde in die huis het vel-infeksies gehad (Foto: Bloemfontein SPCA)

ʼn Man van Hertzogville in die Vrystaat het skuld erken op aanklagte van dieremishandeling nadat die Dierebeskermingsvereniging (DBV) in Bloemfontein verlede jaar minstens 50 diere uit sy huis gered het. Dié diere is onder haglike omstandighede in die huis aangetref.

Duán Matthee, inspekteur by die DBV, sê die DBV het Februarie verlede jaar verskeie klagtes ontvang oor die toestand van die diere wat in Hendrik Keiser (66) se huis in Hertzogville aangehou is. Inspekteurs het gaan ondersoek instel en is aanvanklik toegang tot die huis geweier.

“Keiser het gesê daar skort niks met sy diere nie. Hy het ook gesê dat hy slegs vier honde en katte het,” vertel Matthee. “Hy het later ingestem om een van sy honde na ons toe te bring. Ons het gesien dat die hond se vel in ʼn slegte toestand is.”

Die inspekteurs het aangedring dat hulle die ander honde ook wil sien. Keiser het hulle in sy huis ingelaat. Matthee sê hy was geskok oor hul vonds.

“Ek het nog nooit so baie siek honde en katte in een huis gesien nie. ”

Volgens Matthee het die honde ernstige vel-infeksies gehad. Van die honde en katte het met oop wonde rondgeloop. Die katte was met snuffels besmet.

“Die honde se tande was verrot en party het glad nie meer tande gehad nie. Hulle het slegs van pap gelewe. Die kos is op een plek op die vloer gegooi en die honde moes baklei om kos te kry. Ons het die littekens op die honde gesien soos hulle baklei het om kos te kry.”

Matthee sê die huis was vuil en ontlasting het oral in die huis gelê.

“Geen dier of mens moet ooit onder sulke omstandighede leef nie.”

Die DBV het ʼn hofbevel bekom om die diere van die erf te verwyder en na ʼn veearts te neem vir mediese behandeling. ʼn Saak van dieremishandeling is ook teen Keiser aanhangig gemaak.

Keiser het op 8 Junie in die landdroshof in Hertzogville skuldig gepleit op aanklagte van dieremishandeling. Die hof het sy pleitooreenkoms aanvaar en hy is ʼn boete van R500 opgelê. Hy het nou ʼn kriminele rekord en die hof het hom ongeskik verklaar om die res van sy lewe ʼn dier aan te hou.

“Die DBV is tevrede met die vonnis en verlig om te weet dat geen dier weer onder Keiser sal ly nie.”

Matthee sê die inspekteurs sal gereeld by Keiser se huis ondersoek instel om te verseker dat daar geen dier op die perseel is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Chris dupreez ·

n Boete van R500, dit maak nie sin nie. Hy moet eintlik vir die res van sy lewe hokke skoonmaak by die DBV

Caroline ·

R500.00 thats not a fine that is a bonus he should be locked up and starved to death but his day will come and may it be severe to treat innocent animals like that is just horrendous. Animals are far kinder loving honest and better than people

Misky ·

‘n Skamele R500 is belaglik!!! Maar ek dink daar lê groter sielkundige probleme by die man

Nico ·

Gee hom ‘n leweslange vonnis om honde hokke skoon te maak.

Tanniepetoors ·

Uiters tragies. Hierdie man glo waarskynlik hy het probeer goed doen deur die honde en katte in te neem. Kan daar vir hom ook hulp aangebied word om hierdie trauma in sy lewe te verwerk? My hart bloei vir elkeen van die diere, maar beslis vir hierdie man ook. “But for the grace of God……”

Elinette ·

Ag, asseblief!!! Jy “red” nie ‘n dier deur dit in onhigiëniese omstandighede, in honger en siekte aan te hou nie. As hy trauma beleef het, moet hy hulp kry om hierdie trauma, wat dit ookal mag wees, te verwerk. ‘n Boete van R500.00 en verbod om enige dier weer aan te hou, is niks anders as ‘n “slap & tickle on the hand” nie. Maar dis nou tipies van sg. “dierebeskermingswetgewing” in SA – amper nie eens die papier waarop dit geskryf is, werd nie. Hy moes tot gemeenskapsdiens gevonnis geword het en daagliks hondehokke gaan skoonmaak het by sy naaste DBV, sonder vergoeding, waar hy geleer kon word hoe daar na diere omgesien MOET word.

Lynette ·

Enigiemand wat ‘n redelose dier so behandel… Ek sê sit hom in sulke toestande laat hy bietjie voel. Ons het n varkboer hier by ons wat sy varke onder sulke haglike omstandighede aanhou. Hul afgeslagte maatjies se velle en binnegoed word in plastieksakke oor die rand van die hokke gegooi en die diere vreet maar. Hul breek uit en veroorsaak baie skade want hul is honger en dors. Ons is radeloos verby, want al het ons by verskeie outoriteite aangemeld, pass die een net die bal aan na die volgende instansie. Ons mag nie vakant maak nie want dan beskadig ons privaat eiendom. Bid jou dit nou aan.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.