Man gevonnis ná borsvoed-afloervoorval

Maggie Marx. Foto: Twitter

ʼn Wes-Kaapse ma wat haar tot die polisie gewend het nadat sy verlede jaar in die geheim verfilm is terwyl sy by die werk borsmelk uitgepomp het, het gesê sy voel verlig dat daar iets goeds uit dié nagmerrie uitgekom het.

“Nadat dit gebeur het, was ek verskriklik kwaad. Ek is nog steeds kwaad, maar nadat die woede plek gemaak het vir nugtere denke, het ek besef daar moet iets goeds kom uit die feit dat ek polisie toe gegaan het. Wit-woede moet nie die uitkoms wees nie. Daar moet iets positiefs hieruit kom,” het Maggie Marx aan Maroela Media gesê.

Maroela Media het vroeër berig Marx, ʼn kommunikasiebestuurder by die Universiteit van Kaapstad (UK), het in Junie 2017 ʼn klag by die polisie ingedien nadat ʼn ander werknemer van die universiteit ʼn selfoon gebruik het om haar te verfilm terwyl sy borsmelk uitpomp.

Marx het aan Maroela Media vertel sy het die dag van 13 Junie 2017 opleiding by ʼn gebou op die universiteitskampus, buite haar normale kantoorgebou, bygewoon en het vooraf gereël vir ʼn private, veilige ruimte waar sy melk kan uitpomp. Sy is in kennis gestel Gavin Joe (38), toe ʼn werknemer by die UK se IT-dienste, sal vir haar die kamer wys waar sy privaatheid kan hê en haar die sleutel vir die kamer gee.

“Ek het gedurende ʼn breek in die opleidingsessie na die kamer gegaan om melk uit te pomp. Daar was ʼn stoel binne waar ek kon sit en ʼn ketel, ʼn yskassie, ʼn paar bokse ontbytpap – so ʼn tipe mengsel tussen ʼn pakkamer en ʼn klein kombuisie. Ek het op die stoel gaan sit terwyl ek besig was en toe opgemerk daar is drie gate in een van die papbokse. Dit was onmiddellik vir my vreemd en ek het binne die boks gekyk,” vertel Marx.

“Binne die boks was ʼn selfoon wat gekoppel was aan ʼn kragbank. Omdat ek darem redelik tegnologies aangelê is, het ek onmiddellik besef die video was besig om te live stream. Ek was paniekbevange en het dadelik die boks pap met die selfoon en al in my rugsak gedruk en iemand gebel vir hulp.”

Terwyl Marx vir die kampus se veiligheidsdienste gewag het om op te daag, het Joe aan die vertrek se deur geklop en haar probeer oortuig om die deur oop te sluit. Sy het egter geweier en gewag dat die beamptes van kampusveiligheid eers opdaag. Sy het daarna ʼn klag van crimen injuria teen Joe aanhangig gemaak.

Joe is kort na die voorval deur die universiteit afgedank. Marx het die universiteit geloof vir die ondersteuning wat hulle dwarsdeur die beproewing aan haar gegee het.

Joe het verlede week ingevolge ʼn pleitooreenkoms met die staat skuld op die aanklag teen hom erken. Hy is gevonnis tot 12 maande tronkstraf of ʼn boete van R10 000. Die vonnis is vir drie jaar opgeskort op voorwaarde dat Joe nie in dié tyd aan dieselfde oortreding skuldig bevind word nie.

Joe moet ook R4 000 aan die nie-winsgewende organisasie, Milk Matters, betaal. Dié organisasie verskaf borsmelk aan vroeggebore, siek en kwesbare babas wie se eie ma’s nie genoegsame borsmelk aan hulle kan voorsien nie.

Joe moet ook oor die volgende 12 maande 120 ure se gemeenskapsdiens verrig en moet ook op sy eie onkoste vir die volgende twee jaar terapie ondergaan.

Marx het haar tevredenheid oor Joe se vonnis uitgespreek en sê sy meen dat dit regverdig is. “Ten spyte daarvan dat ek nog steeds kwaad is, het ek besef hy het vaardighede en waardes om tot die samelewing by te voeg en om hom toe te sluit, sal niemand iets goeds in die sak bring nie. Om terapie te ondergaan is die beste ding vir hom en sy gesin, asook die samelewing as geheel,” het sy gesê.

“Ek is ook baie bly dat die hof beslis het dat hy ʼn betaling aan Milk Matters moet maak, omdat dit ʼn organisasie is wat werklik wonderlike werk doen.”

Marx sê die voorval het haar opnuut laat besef hoeveel uitdagings ma’s wat borsvoed daagliks in die gesig staar. “Ek is in die ongelooflike bevoorregte posisie dat ek bedags ʼn kantoor het wat ek kan sluit en rustig en in my eie privaatheid kan borsmelk uitpomp, maar daar is so baie ma’s wat nie hierdie geleentheid het nie. Vroue wat onderwysers is, skoonmakers, padwerkers en mense wat in winkels werk wat nie net die fisiologiese uitdaging van borsvoeding moet oorkom nie, maar ook die praktiese uitdagings in ʼn samelewing wat steeds so oningelig daaroor is.”

Marx sê sy meen daar moet spesifieke wetgewing in plek wees wat vroue wat borsvoed beskerm teen diskriminasie en viktimisasie en vroue moet ingelig word wat hul regte in hierdie verband is en hoe hulle kan seker maak dit word toegepas.

“Ek was nog altyd ʼn gemaklike rusbank-feminis wat my sommer net daar by my huis uitgespreek het teen sulke tipe goed. So toe my beurt kom dat so iets met my moet gebeur, het ek geweet ek móét iets sê. Om nié hierdie geleentheid te gebruik om op te staan vir vroueregte nie, sou net fundamenteel verkeerd gewees het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

anton ·

Baie snaaks want sekere mense borsvoed ens. sommer op straat en winkel sentrums oop en bloot en geen ”hoe ha” word gemaak nie!!!

Kowa ·

Anton al borsvoed sy in die openbaar gee dit hom nie die reg om ‘n skelm of enige, video daarvan op te neem nie.

Ano ·

Ek is glad nie ‘n ondersteuner van openbare borsvoeding nie, maar die dame het gereel vir privaatheid.

Denise ·

Die Joe het net mooi geen idee wat die woord privaatheid beteken nie wat is fout met hom hoekom so walglik wees word GROOT . RESPEK is so belangrik !!!!!!

Liesl ·

Daar is ‘n verskil tussen borsvoed en borsmelk uitpomp. Ek glo nie mens sal laasgenoemde (wat die dame moes doen) op straat sien nie…

Boersvoed Mamma ·

Goeie werk Maggie, ek borsvoed my baba ook nogsteeds en in privaatheid pomp ek ook uit. Anton, sy was nie in die openbaar nie. Ek voed nie in die openbaar nie en dis eintlik n skande, want mense is blind vir n honger baba. Ek moet altyd n privaat plek of n vuil badkamer gebruik oor mense soos jy! Mense moet bewus raak en ophou die fleeslike raak sien, ons babas kry net die beste!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.