Man gevonnis ná hy Brits-pa in padwoede-aanval doodsteek

Morné Kuhn. Foto: Verskaf

ʼn Skoolbussiebestuurder is Donderdag in die Pretoria-hooggeregshof gevonnis nadat hy verlede jaar vir Morné Kühn, ʼn nutsman van Brits in Noordwes, tydens ʼn padwoedevoorval buite die dorp ten aanskoue van sy 11-jarige dogter met ʼn skerp voorwerp doodgesteek het.

Regter Bert Bam het die minibusbestuurder, Zakaria Semakela (33) van Lesotho, Woensdag in dié hof skuldig bevind aan die moord op Kühn (35) op 10 Maart verlede jaar.

Maroela Media het destyds berig Kühn en Semakela, wat skoolkinders in ʼn minibus rondgery het, het in ʼn bakleiery betrokke geraak ná Semakela by die Alfa-aansluiting voor Kühn ingedraai het. Kühn moes erg rem om ʼn botsing te vermy. Net die jongste van Kühn se twee dogters, nou onderskeidelik 12 en 16 jaar oud, was tydens die voorval saam met hom in die voertuig.

Vier staatsgetuies, waaronder twee hoërskoolleerders wat in die minibus was, het getuig dat albei bestuurders hul voertuie stilgehou het, waarna Kühn die minibus genader het. ʼn Woordewisseling het ontstaan en volgens die getuies het Semakela die aanval begin deur Kühn te klap. Kühn het daarop reageer deur Semakela met die steel van ʼn pik te slaan.

Semakela het aangevoer Kühn het ʼn mes by hom gehad en is tydens die onderonsie raakgesteek toe Semakela die mes wou afneem. Hy het ook aangevoer hy het uit selfverdediging opgetree.

Regter Bam het die staatsgetuies se weergawe aanvaar dat daar nie ʼn gestoeiery was nie en dat Kühn na sy motor teruggestap het toe Semakela hom genader en met ʼn skerp voorwerp in sy bors gesteek het. Kühn is minute later op die toneel dood.

Die nadoodse ondersoek het bevind dat Kühn dood is weens ʼn steekwond aan sy hart.

Volgens ʼn verbyganger wat eerste op die toneel was, het Kühn se dogter histeries op en af in die pad gehardloop op soek na hulp. “Sy het geskree: ‘Oom, help asseblief!’, maar toe ek aan sy pols voel, kon ek voel hoe raak die polsslag al flouer. Ek het haar in die oë gekyk en sy het weer geskree: ‘Lewe hy nog?’, maar hy het nie. Ek het in my lewe nog nooit ʼn kind so sien skree nie,” het hy gesê.

Bam het gesê Semakela se weergawe van gebeure verskil heeltemal van die staatsgetuies. Bam het, voor hy Semakela skuldig bevind het aan moord, gesê selfs al het Kühn hom met die stuk hout geslaan, was Semakela nie meer in gevaar toe hy vir Kühn aangeval het nie.

Semakela het Donderdag ter versagting van sy vonnis getuig dat dit nie sy bedoeling was om die misdryf te pleeg nie. “Ek het nog nooit vantevore met die gereg gebots nie en ek belowe om nie weer so ʼn fout te herhaal nie. Aan die familie van die oorledene – ek vra dat julle my vergewe. Ek betwyfel nie dat ek julle seergemaak het nie,” het hy gesê.

Zelda Du Bruyn. Foto: Verskaf

Zelda Du Bruyn, Kühn se eksvrou, het daarna ter strafverswaring getuig. “Ons twee dogters het die afsterwe van hulle pa nie goed hanteer nie. My jongste dogter, wat toe 11 was en die aanval gesien het, moes ʼn sielkundige gaan sien toe sy teruggekeer het skool toe. Sy het vir lank gesukkel om te eet en te slaap en het gereeld nagmerries gekry. Daai tyd was hel.”

Du Bruyn het gesê hul oudste dogter moes vir twee weke na ʼn inrigting gaan, aangesien sy haarself met lemmetjies gesny het.

“Hulle mis hulle pa. My jongste dogter kry steeds terugflitse en het gereeld aan my vertel presies hoe dinge gebeur het en hoe sy haar pa homself sien doodbloei het.”

Die staat het ʼn brief in die hof voorgelees wat Kühn se jongste dogter in Afrikaans geskryf het.

“Ná die ongeluk kon ek nie slaap nie. As ek slaap, sien ek alles voor my gebeur. My sussie het my blameer. Sy het gesê as ek nie daar was nie het dit nie gebeur nie. Dit het my hartseer gemaak. Ek en my pa het ʼn sterk band gehad. Ons het altyd saam gaan visvang en dan gekyk wie kan die meeste visse vang. Dit was vir my erg om my pa te verloor. Ek en my sussie het uitmekaar gedryf, maar ek het haar vergewe dat sy my blameer het.”

Bam het in sy vonnisoplegging gesê Kühn se moord spruit uit ʼn padwoedevoorval wat deur Semakela veroorsaak is toe hy op ʼn roekelose manier voor Kühn in die verkeer ingery het.

“Sulke gedrag is die teelaarde van padwoede. Dit gebeur gereeld in ons land as mense nie ander padgebruikers in ag neem nie en veroorsaak baie probleme. Dit is nie verbasend dat dit ʼn uitwerking op mense se humeure het nie, maar hulle moet hulself in toom hou – padwoede word nie in die wet geregverdig nie,” het Bam gesê.

Bam het gesê die beskuldigde toon geen berou nie en hou ook vol dat hy Kühn uit selfverdediging doodgesteek het.

Bam het Semakela tot 20 jaar tronkstraf gevonnis. Vyf jaar van die totale vonnis is opgeskort. Semakela sal dus 15 jaar van dié vonnis uitdien.

Du Bruyn het ná die vonnisoplegging gesê hulle voel Semakela se straf is te lig, maar dat die familie ter wille van haar dogters nou net wil aanbeweeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Joy ·

Tragies en die vonnis is ñ belediging vir ons regstelsel! Sterkte aan sy familie, veral sy kinders. Mag die herrineringe sag op Jul wees

Callie ·

Jy vermoor n onskuldige man en kry n opgeskorte vonnis. Hoe ver wil julle die wittes dryf. So, as jy swart is kan jy n witte vermoor, maar n witte gaan tronk toe oor wat hy se. Niemand, niemand sal my oortuig dis nie totaal onaanvaarbaar nie en dat daar nie meer n regstelsel in die land is nie

Mariné Lourens ·

Dagsê Callie

Dankie vir jou kommentaar. Die vonnis is nie in sy geheel opgeskort nie. Vyf jaar van die 20 jaar vonnis is opgeskort. Die beskuldigde moet dus steeds 15 jaar van dié vonnis uitdien. Die bewoording van die berig is aangepas om dit duidelik te maak. Hoop dit klaar die verwarring op.

Groete
Mariné
nms Maroela Media

Sê maar net ·

Ek is so jammer vir julle. 15 jaar is niks in vergeleke met 2 dogters wat hulle pa nodig het nie. Mag God julle help en beskerm en veilig hou.

Sarel ·

Kas, ek het gewonder of ek reg gelees het. Sy vonnis is opgeskort vir 5 jaar!!?? Beteken dit regtig dat hy glad nie tronk toe gaan nie?

Oud Rhodie ·

Nasionale Vervolgingsgesag moet appel aanteken teen hierdie belaglike vonnis. Welke boodskap stuur dit nie uit nie ?

Theresa ·

Hy is ‘n moordenaar.
Die vieslike manier waarop mense bussies, busse, taxis en ander voertuie bestuur is ‘n klap in die gesig van die gereg. In een week se tyd 2x gehad dat eerstens ‘n taxidrywer teen my kardak kap met sy vuis omdat hy nie links kan verbykom op gronddeel nie want toe is daar ‘n padteken in sy pad en tweedens ‘n afleweringsmotorfietsryer wat woedend is omdat hy nie kan verby op die streep wat hy as baan ag tussen my en ”n ander motor nie. Hy slaan toe sy vuis teen die motorruit.
Ek verstaan glad nie waarom hierdie mense dink hul kan hiermee wegkom nie.
Ongelukkig te veel gebewe uit skrik om foto te kon neem vir Metro.
Sal dit egter enigsins help om so iets in te handig?

Sterkte aan die gesin wat ‘n pappa verloor het. Die bussiebestuurder moet van bestuurrol iewers geskraap word. Nie in staat tot selfbeheersing nie en GLAD nie geskik vir lisensie of publieke vervoer nie.

Lana ·

1. Belaglike vonnis!!!
2. Semakela is die soort wat as hy toegelaat word om verder te bestuur, hoor ons môre oormôre van nog ‘n bussie wat op sy dak te lande gekom het en daar is ‘n paar mense dood.

Reenboog nagmerrie ·

Die patroon gaan maar net aan. Die moordenaar is wart en die vermoorde is wit. Witmense se lewens is niks werd in die nuwe reenboog nasie nie. Daar is niks geregitheid vir blankes nie. Ek pak.

Adriaan ·

Ek hoop van harte dat daar iewers n burgerregte organisasie is wat die vonnis wil / kan appelleer.

Carel ·

Jy kan iemand doodmaak moet hom net nie in n doodskis sit nie
Belaglik

Liberaal ·

Of die woord mandjie gebruik nie. Ons liberaliste is besig om n baie lang lys saam te stel wat blankes nie meer mag se nie.

Didi ·

Mag die twee Sussies mekaar eerder weer vind as om deur hierdie negatiewe ding uitmekaar geskeur te word.

Lana ·

Net ‘n kwessie van tyd, dan sal die twee sussies besef dat dit nie een van hulle se skuld is nie. Dis die ANC-regering se skuld.

anton ·

Wel, kry 15 jaar maar na 5 of 6 jaar kom hy uit op parrool???
Regstelsel word by die dag n groter sirkus en moet eerder heet as n ”onreg” stelsel!!!

Andre ·

Semakela veroorsaak hierdie voorval, vermoor ‘n onskuldige man voor sy kinders, toon geen berou nie en word hierdie belaglik ligte vonnis opgelê? Soos iemand reeds hierbo aangedui het, na so 5 jaar is hy uit op parool en weer op straat. Absoluut belaglik! Ek hoop die NVG teken appel aan teen die vonnis hoewel ek baie sterk betwyfel of dit ooit sal gebeur aangesien die slagoffer blank was. Waarom was Semakela nie minstens tot 25 jaar gevonnis sonder dat hy parool kon kry nie?

E.K. die eerste ·

Ai mense sovele al doodgemaak agv padwoede. Kan ons ALMAL maar nie bietjie meer verdraagsaam probeer optree nie. Hierdie was so onnodig. Ek weet alte goed dat taxis mens se gemeodere opklits en dat hule eie “reëls” maak, maar die beste is dat almal probeer dashcams kry en sulke voorvalle opneem en hul aankla. Hoe meer mens aankla en aandring op geregtigheid hoe meer sal die verkeerspolisie net MOET luister en hul vervolg. Dis maar al wat ek kan dink…

kas ·

Geen hof sal ‘n ander vonnis ople nie.Vyftien jaar vir moord is gepas.Onthou Oscar se vonnis as julle kommentaar lewer

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.