Man gevonnis ná hy kêrel op Kersdag vermoor

Die Wes-Kaapse hooggeregshof. Argieffoto

Die Wes-Kaapse hooggeregshof. Argieffoto

ʼn Jong dwelmverslaafde is Maandag in die Wes-Kaapse hooggeregshof gevonnis vir die moord op sy 62-jarige kêrel.

Gerhardus Joshua Albrecht (25) het in sy pleitooreenkoms met die staat erken dat hy sy kêrel, Ernest Will (62), op Kersdag verlede jaar aangerand en vir die dood agtergelaat het. Hy het ook skuld erken op ʼn aanklag van roof met verswarende omstandighede.

Albrecht is die dag van die moord na Will se huis om hom vir geld te vra. Die twee het saam gedrink en ʼn rusie het ontstaan. Albrecht het Will met ʼn knopkierie, ʼn porseleinbord en twee drankbottels oor die kop geslaan. Hy het hom daarna vasgemaak, sy mond toegebind en hom vir die dood agtergelaat.

Albrecht het met Will se halssnoere, oorbelle, antieke muntstukke, horlosies en motor gevlug. Hy het later die motor aan sy dwelmhandelaar verkoop. Hy is op 14 Januarie 2015 in hegtenis geneem.

Albrecht is tot 25 jaar tronkstraf gevonnis vir die moord en tot 15 jaar vir roof. Die vonnisse sal gelyklopend uitgedien word.

Eric Ntabazalila, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag (NVG), het gesê misdadigers gaan nie pleitooreenkomste met die staat aan omdat hulle “wedergeborenes” is nie. “Hulle word in die ooreenkoms ingedwing deur die oorweldigende bewyse teen hulle en hulle weet hulle sal nie hul tyd in die tronk kan vermy nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.