Man gevonnis ná hy vrou 20 keer steek

Monroe Clayton Lee in die hof. (Foto: Verskaf deur SAPD)

ʼn Man wat sy vrou meer as 20 keer met ʼn mes gesteek het terwyl sy haar kleindogter in haar arms gehad het, is vandeesweek in die Noord-Kaapse hooggeregshof tot effektief 26 jaar agter tralies gevonnis.

Monroe Clayton Lee is skuldig bevind aan moord, asook twee aanklagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer nadat hy in die proses die babatjie in sy vrou se arms ook raakgesteek en probeer het om sy dogter, die ma van die baba, ook met die mes te steek.

Kapt. Olebogeng Tawana, woordvoerder van die polisie, sê die voorval het op 20 Augustus 2016 in Kimberley gebeur toe Lee sy vrou, Mitashja, met ʼn mes aangeval het. Mitashja het hul kleindogter in haar arms gehad en die babatjie het ook twee steekwonde opgedoen, een in die bors en een in haar gesig.

IOL berig regter Bulelwa Pakati het in die uitspraak gesê Lee se optrede het nie net sy vrou se lewe geëis nie, maar die hele familie geraak en getraumatiseer. Sy het daarop gewys dat Lee se oudste dogter, die baba se ma, geen kontak met hom wil hê nie, terwyl sy jonger dogter se skoolwerk agteruitgegaan en sy selfmoordneigings het.

“Die baba, wat deur die beskuldigde beseer is, het twee wonde opgedoen. Die kind het nou pyn wanneer sy opgetel word en sal sê, ‘My oupa het my seergemaak’,” het Pakati gesê.

Diamond Fields Advertiser berig Pakati meen hoewel daar nie bewyse is dat die moord met voorafbedagte rade gepleeg is nie, het Lee wel die direkte voorneme gehad om sy vrou dood te maak.

Die Noord-Kaapse polisiebestuur het die ondersoekwerk in die saak en samewerking tussen die polisie en die nasionale vervolgingsgesag (NVG) geloof. “Die vonnis sal dien as afskrikmiddel vir persone wat die weerloosheid van vroue en kinders wil misbruik,” het Tawana gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Kobus ·

Vonisse is lankal nie meer afskrik middel nie. Wie skrik nou vir 26jr nadat hy mense se lewens verwoes het

Theresa ·

Ek stem saam. Nou gaan sit hy vir n klomp jare en niks doen en ons belastingbetalers betaal vir sy vakansie. Hy hoef oor niks te worry nie want alles word vir hom gedoen in die tronk. Hang hom! As doodstraf terug gebring word sal dit beter in hierdie land gaan. Dit sal ‘n goeie afskrik middel wees want misdadigers voel niks. Om iemand dood te maak is aan die orde van die dag want hulle weet hul gaan Hof toe en tronk toe en kom weer uit.

BlinkStephaans ·

Die vonnis strook nie met die dade… dis ñ klap in die gesig van die wat agterbly… en ñ verdere steek vir die oorledene.

Magda ·

Hier moet die DOODSTRAF terug gebring word – DIe gemors verdien NIKS minder nie. 26 jaar te min – As dit lewenslank is – moet dit lewenslank wees, tot hy sy laaste asem uitblaas in die tronk.

Anoniem ·

Hoe boos moet iemand nie wees om so iets aan sy eie familielede te doen nie?

Skerpioen ·

Ek stem saam met jou. As jou eie familielede dít met jou kan doen… waar is mens veilig. Dis baie scary en kommerwekend.

Chris ·

En ergste is hy sal seker parool kry lank voor sy 26jr uitgedien is.

Karolis ·

Ek is verstom om te lees dat dit drie jaar geneem het om die skuldige te vonnis.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.