Man gevonnis ná kleuter se liggaam in swartsak gevind is

Odwa Nkololo Dinsdag in die Wes-Kaapse hooggeregshof. Foto: Noor Slamdien/ANA

Die ma van ʼn vierjarige kleuter het Dinsdag hartstogtelik begin huil toe haar dogter se moordenaar in die Wes-Kaapse hooggeregshof lewenslange tronkstraf opgelê is.

Lede van die Khayelitsha-gemeenskap het om Iyapha Yamile se ma gestaan en gospelliedere gesing terwyl Odwa Nkololo (30) uit die volgepakte hof gelei is om sy lewe agter tralies te begin.

Waarnemende regter Dianne Davis het Nkololo drie lewenslange vonnisse opgelê wat gelyktydig uitgedien sal word. Nkololo is in April 2017 skuldig bevind aan die verkragting en moord op Iyapha. Hy is ook skuldig bevind aan die verkragting van sy vriendin se sewejarige dogtertjie, asook die verkragting van sy vriendin net ses weke vantevore.

Iyapha is op 30 April 2017 as vermis aangemeld nadat sy by haar tannie gekuier het. Die kleuter se liggaam is die volgende dag in ʼn swartsak naby haar tannie se huis gevind. Nkololo is in Julie in hegtenis geneem nadat die woedende gemeenskap verskeie onskuldige mense se huise afgebrand het. Nkololo se huis is ook afgebrand.

“Hy is uitgewerp uit die gemeenskap en geen van sy familie het gekom om hom gedurende die verhoor te ondersteun nie,” het Davis gesê.

Die vierjarige Iyapha Yamile se ma bars in trane uit nadat Odwa Nkololo gevonnis is. Foto: Noor Slamdien/ANA

Sy het gesê hoewel Nkololo nie ter versagting van vonnis getuig het nie, het sy regsverteenwoordiger voorleggings namens hom gemaak. Dit het ingesluit dat hy ongetroud is, die pa van twee jong kinders is en een vorige skuldigbevinding aan diefstal in 2014 het.

Nkololo se regspan het aangevoer hy het nie ʼn geskiedenis van geweld nie en “is daarom vir hierdie doeleindes eintlik ʼn eerste oortreder”.

Davis het tydens haar vonnisopleggings gesê Nkololo het geen berou vir sy misdade getoon nie en neem ook nie verantwoordelikheid daarvoor nie. “Hy dink nie aan Iyapha se familie wat steeds hul rou en verlies moet verwerk nie.”

Sy het gesê hoewel enige verkragting ʼn verskriklike oortreding is, word die verkragting van ʼn kind wat jonger as 16 jaar oud is “in ʼn besondere ernstige lig gesien”.

“Hier kyk ons na die moord van ʼn vierjarige kind wat doodgemaak is nadat sy verkrag is.” Sy het daarop gewys dat die mediese bewyse getoon het dat die kleuter beserings aan haar geslagsdele opgedoen het en gewurg is. “Sy moes verskriklike pyn en vrees verduur het voor sy dood is.”

Odwa Nkololo Dinsdag in die Wes-Kaapse hooggeregshof. Foto: Noor Slamdien/ANA

Sy het gesê Nkololo het ook sy vriendin se dogter, wat hom as ʼn stiefpa gesien het, verkrag. “Hy het munt geslaan uit die situasie toe sy vriendin nie daar was nie. Hy het twee minderjarige kinders in ʼn tydperk van minder as ses weke verkrag. Hy moet uit die gemeenskap verwyder word ter wille van kinders se veiligheid.”

Davis het gesê ouers moenie heeltyd hoef te vrees dat hul kinders die slagoffers van misdadigers sal word as hulle in die strate speel nie. Sy het gesê howe moet die gemeenskap se sienings en emosies oor sulke sake in ag neem.

“Die voorkoms van kinderverkragtings is uitsonderlik hoog. ʼn Duidelike boodskap moet gestuur word dat oortreders die volle mag van die gereg in die gesig sal staar.”

Davis het gesê daar is geen regverdiging om van die minimum voorgeskrewe vonnis af te wyk nie aangesien daar geen versagtende omstandighede in dié geval bestaan nie.

Sy het die gemeenskap bedank vir die samewerking wat hulle aan die polisie gegee het tydens hul ondersoek en het die polisie geloof vir hul “innoverende werk” op die saak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Alida ·

Dankie aan die Regter. Net jammer die gemeenskap is nie geleentheid gegun om hulle werk klaar te maak nie.

IK ·

‘n Regter so na my hart. Eintlik moes hy ‘vir ewig’ tronk toe gestuur word. Ek huil saam met die ma. Eerste oortreding? Se voet man!!

Lerato ·

Hoeveel kinders moet dood grmartel word, voor die doodstraf terug kom?

Abe ·

Lerato,
Die doodstraf sal nooit teruggebring word nie. Vergeet dit nou.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.