Man gevonnis ná moord op eksmeisie

Knysna Koppe Foto: Oesjaar – Eie werk via Wikimedia Commons

Eugene Stander is in die Wes-Kaapse hooggereghof gevonnis op aanklag van die moord op sy eksmeisie, Shantel Zeelie.

Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, het Dinsdag in ʼn verklaring gesê Stander is tot 25 jaar direkte tronkstraf gevonnis. “Hy het tereg gestaan op aanklag van moord en twee aanklagte van bedrog en diefstal.”

Staatsaanklaer Christhenus van der Vijver het die sitting by die Knysna-hof verwelkom. Van der Vijver het aan die hof gesê Stander het op 5 Januarie 2009 sy eksmeisie, Shantel Zeelie, verwurg. Die twee se verhouding het laat in 2007 begin en hulle het saam in ʼn woonstel ingetrek. Vroeg in 2008 het Shantel haar pa, Daniel Zeelie, gevra om ʼn motortegnikus se kwalifikasiesertifikaat van sy werk af te bring. Sy het haar pa mislei, omdat sy voorgegee het dat sy slegs die sertifikaat wil sien.

Sy het twee dae later die sertifikaat aan haar pa terugbesorg.

ʼn Afskrif is egter van die sertifikaat gemaak sodat die beskuldigde dit kon gebruik om werk te kry by Knysna Motors, Reeds Motor Group en Dirk Ellis Motors.

Die verhouding het in Oktober 2008 tot ʼn einde gekom en die oorledene het na haar ouerhuis teruggekeer.

Ná die verhouding verbreek is, het Zeelie ʼn gerug begin dat sy swanger is met Stander se kind en dat sy ʼn aborsie beplan, het Ntabazalila bygevoeg. Sy het intussen ʼn nuwe verhouding met Danine Klue begin. “Die oorledene het ook gedreig om vir Klue, Stander se ouers en sy werkgewer te vertel dat hy ʼn vervalste sertifikaat het. Sy het hom afgedreig en gesê hy moet R20 000 aan haar oorbetaal om stil te bly oor die vervalste sertifikaat.”

Zeelie is op 5 Januarie 2009 werk toe en het ʼn afspraak met Stander gehad om hom daardie middag by die Knysna Koppe te ontmoet. Sy het egter nie die middag weer na haar werk toe of die aand huis toe teruggekeer nie. Haar ouers het haar op 6 Januarie 2009 as vermis aangemeld. Haar liggaam is daardie middag onder takke langs ʼn voetpad by ʼn uitsigpunt by die Knysna Koppe gevind deur brandbestryders wat aan die soektog deelgeneem het.

Volgens die nadoodse ondersoek is sy verwurg.

Ntabazalila het gesê die NVG verwelkom die vonnis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Onnie ·

Dis uiters tragies en die man verdien om grestraf te word maar… Die girl het ‘n gevaarlike game gespeel en sleg 2de daarvan afgekom. Ek dink 25 jaar is bietjie rof vir hom as ek daaraan dink dat sy die een is wat die gevaarlike spel begin het. ..

kas ·

Danine klink dan vir my soos ‘n vrou.Sy het die sertifikaat vervals sodat haar kerel kon werk kry.Hoe kon sy hom afpers.Was sy regtig swanger of het sy daaroor ook gejok.Ek verstaan egter nie hoekom hy haar moes vermoor nie aangesien daar ander maniere was om die saak op te los.Was hy verbitterd en verneder omdat sy hom gelos het vir iemand anders.Ongelukkig was dit moord waaraan hy skuldig bevind is en dit lyk nie of daar enige versagtende omstandighede was nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.