Man gevonnis ná Noordwes-man se moord

Dirk Coetzee, wat sedert 13 Desember 2014 vermis word (Foto: Pink Ladies-plakkaat)

Dirk Coetzee, wat sedert 13 Desember 2014 vermis word (Foto: Pink Ladies-plakkaat)

Moses Dipone wat skuldig bevind is op aanklag van die moord op Dirk Coetzee (66), is Vrydag in die Noordwes-hooggeregshof gevonnis.

Dipone is tot 20 jaar tronkstraf gevonnis vir die moord op Coetzee en agt jaar vir die roof van sy Ford Ranger-bakkie, bankkaart, selfoon en identiteitsdokument in Marikana naby Rustenburg.

Die vonnisse sal gelyklopend uitgedien word.

Coetzee is op 6 Januarie 2015 as vermis aangemeld nadat hy nie by die werk opgedaag het nie en laas op 13 Desember 2014 met sy dogter gepraat het. Hy is vermoedelik dood, alhoewel sy liggaam nooit gevind is nie. Hy is laas op 13 Desember 2014 in Bothaville in die Vrystaat gesien.

Sy bakkie is by ʼn skrootmetaalhandelaar in Boitekong naby Rustenburg gevind, wat verduidelik het dat Dipone en sy meisie, Belinda Karen, die bakkie aangebied het as sekuriteit vir ʼn lening van R20 000. Hulle sou R35 000 aan hom terugbetaal en dan die bakkie terugkry.

Dipone is op 15 September 2015 in Kakamas in die Noord-Kaap in hegtenis geneem. Ná sy inhegtenisneming het hy aan die polisie gesê hy het Coetzee se liggaam met klippe vasgebind en in die Bospoort-dam in Kanana naby Rustenburg gegooi.

Polisieduikers het nie die liggaam gevind nie.

Karen was Coetzee se huishulp.

Lees alle vorige berigte oor Dirk Coetzee op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Libby ·

Ek is van die opinie dat hulle die vonnis gelykstaande aan die tydpark wat dit vir die familie gaan vat om berusting te kom en deur die seer te werk moet wees. Dus sal dit nie maar net 20 jaar wees nie.

Cherokee ·

Die vonnisopleggers probeer indrukwekkende vonnisse uitspreek deur 20 jaar vir moord, 15 jaar vir roof, 10 jaar vir inbraak, 5 jaar vir ongelisensieerde vuurwapen, ens te vonnis en nadat die joernaliste aantekeninge van alles gemaak het, water hulle dit af deur te sê dat die vonnisse gelyklopend uitgedien sal word, so net die eerste vonnis minus afslag soos in parool, geld.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.