Man gevonnis ná vrou in bendegeweld sterf

Foto ter illustrasie. (Argieffoto: ANA)

’n 27-jarige man is in Vrouemaand tot 20 jaar tronkstraf gevonnis vir die moord op ’n Wes-Kaapse vrou vyf jaar gelede.

Belinda Hector was maar 52 jaar oud toe sy op 13 Oktober 2017 deur ’n dwaalkoeël getref is nadat bendegeweld in Letabaweg in Manenberg uitgebreek het.

Desmond Leroy Williams is op 2 Augustus in die Wynberg-landdroshof gevonnis nadat daar vroeër bevind is dat hy Hector se dood veroorsaak het toe hy destyds blindelings skote afgevuur het.

Sers. Wesley Twigg, polisiewoordvoerder, het Vrydag in ’n verklaring gesê daar is bo alle redelike twyfel bewys dat Williams die sneller van die vuurwapen getrek het waarmee Hector geskiet is.

“Die slagoffer was in die kruisvuur vasgevang en ondersoekers van die Manenberg-polisie het saam met die gemeenskap gewerk om die nodige bewyse te verskaf wat nodig was om Desmond Leroy Williams suksesvol te vervolg, skuldig te bevind en tot 20 jaar direkte tronkstraf te vonnis,” het Twigg gesê.

“Hy [Williams] was maar 22 jaar oud toe hy hierdie gruwelike misdaad gepleeg het, wat Belinda se lewe weggeruk het.”

Die provinsiale polisiekommissaris, lt.genl. Thembisile Patekile, het die ondersoekers en vervolgingspan geloof vir hul werk rakende Hector se saak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Di ·

JA, so moet elke mens ongelukkig die gevolge dra van sy dade. “You Get to Make Your Own Choices, but You Do Not Get to Choose Your Consequences”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.