Die 35-jarige man wat ʼn vyfjarige meisie verlede jaar verkrag en vermoor het ná ʼn geskil met haar ouma, is Woensdag in die Kaapstadse hooggeregshof gevonnis.
Minentle Lekhatha het op 3 Junie verlede jaar verdwyn toe sy buite haar huis in Strand gespeel het.
Xolani Lantu is in hegtenis geneem kort dat haar liggaam gevind is.
“Minentle se ouma, Thelma Bombela (51), het haar verhouding met Lantu verbreek nadat hy haar verbaal mishandel het en klein Minentle moes met haar lewe betaal,” het die polisie in ʼn verklaring gesê.
Haar liggaam is onder ʼn brug in Broadway Soekstraat in Nomzamo gevind. Sy is verkrag voor sy vermoor is.
Lantu is tot drie keer lewenslange tronkstraf gevonnis.
Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, het gesê die NVG verwelkom die vonnis. Hy het verduidelik Lantu is skuldig bevind op aanklag van ontvoering, twee van verkragting en die moord op Minentle. Lantu is tot vyf jaar direkte tronkstraf gevonnis op aanklag van ontvoering van ʼn minderjarige, lewenslange tronkstraf vir die twee aanklagte van verkragting en lewenslange tronkstraf vir die moord op ʼn minderjarige. Die vonnisse sal gelyklopend uitgedien word.
“Lantu is ʼn pa van vyf. Sy buite-egtelike verhouding is met Minentle se ouma beëindig toe die aanval plaasgevind het,” het Ntabazalila verduidelik. “Hy het haar daarvan beskuldig dat sy ʼn verhouding met iemand anders aangeknoop het.”
Op die dag wat Minentle verdwyn het, het Lantu ontken dat hy weet waar sy is en was ongeskik met die gesin toe hulle by hom wou weet of hy haar gesien het. Regter Derek Wille het in sy uitspraak gesê Minentle was in die hande van iemand wie sy vertrou het, wie sy “tjommie” genoem het. Hy het tydens die hofsaak homself verskoon nadat hy van die beserings te hore gekom het wat Minentle opgedoen het.
“Die enigste leidrade wat tot [Lantu se] inhegtenisneming gelei het, was videomateriaal wat die ondersoekbeampte van kringtelevisiekameras afgelaai het. Die beeldmateriaal het gewys hoe die beskuldigde die oorledene omstreeks 13:41 na die brug dra. Hy het omstreeks 14:45 alleen teruggekeer,” het Ntabazalila bygevoeg.
Hy is op 6 Junie 2017 in hegtenis geneem. Hy het dieselfde klere aangehad wat hy op die video gedra het. Die oorledene se bloed is op sy klere gevind.
Hoekom word vonnisse gelyklopend uitgedien? Dit dien mos nie die doel nie?
Stem met jou saam, hy behoort vir ewig te sit. Sweis die sel se deur toe en vernietig ook die sleutel. Mag die kindjie se familie berusting vind.