Man gevonnis oor kinderpornografie

Argieffoto

ʼn Man wat daarvan beskuldig word dat hy pornografie aan ʼn 10-jarige seun gewys het, is Donderdag in die Bloemfontein-streekshof gevonnis.

Thabang Seecoe (32) het in September 2014 ʼn seremonie by ʼn huis in Phahameng in Bloemfontein bygewoon waar die 10-jarige ook was. Die kind was saam met sy ma by die seremonie, het sers. Thabo Litabe, woordvoerder van die polisie, gesê.

“Hy het die seun eenkant toe geroep en hom gruwelike video’s gewys van persone wat omgang het, en die kind was só getraumatiseer dat hy gevlug en homself in een van die vertrekke van die huis toegesluit het,” het Litabe bygevoeg. “Die ma was geskok deur haar seun se gedrag en wou by hom weet wat gebeur het. Die seun het alles vir haar vertel en het ʼn volle beskrywing gegee van die verdagte wat in hegtenis geneem is toe die polisie by die toneel opgedaag het.”

Volgens Litabe het die polisie die video’s op die verdagte se selfoon gevind en beamptes het dit gekonfiskeer.

“Seecoe is skuldig bevind op aanklag van kinderpornografie en is tot vyf jaar tronkstraf gevonnis wat in die geheel vir vyf jaar opgeskort is. Sy naam is op die register vir seksuele oortredings bygevoeg.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

mandi ·

Opgeskort??? Word ons kinders so beskerm? Duisend strikkies word uitgedeel en weke van “against women and child abuse” word gehou. Maar oortreders gaan skotvry. Belaglik!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.