Man gevonnis oor korrupsie by Limpopo-gevangenis

Kutama Sinthumule- korrektiewe sentrum (Foto: Kensani Capital)

Die voormalige adjunkdirekteur van die Kutama Sinthumule- korrektiewe fasiliteit in Louis Trichardt, Limpopo, het in die gespesialiseerde handelsmisdaadhof in Giyani verskyn in verband met korrupsie.

“Clement Raphalalani (57) het tussen 2017 en 2018, as adjunkdirekteur van die gevangenis, met Thabo Makamane, ook ʼn adjunkdirekteur by die gevangenis, saamgespan om tenders aan verskillende maatskappye toe te ken sonder om die behoorlike prosesse te volg,” sê kapt. Matimba Maluleke, woordvoerder van die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke).

Die gevangenis het ʼn verlies van R18 miljoen gely deur dié onwettige aktiwiteite.

Raphalalani en sy medebeskuldigdes, wat drie maatskappye naamlik Clemenson Carriers, Penson Manufacturing en Vhalenda Zwashu insluit, is in Desember 2018 deur die Valke in hegtenis geneem.

Raphalalani is Donderdag ʼn boete van R100 000 of 10 jaar tronkstraf opgelê op aanklag van korrupsie, Hy is ook in dieselfde hof skuldig bevind op verskeie ander aanklagte wat met korrupsie verband hou en is ʼn verdere R70 000 of agt jaart tronkstraf opgelê.

Die maatskappy Clemenson Carriers is ook skuldig bevind op aanklag van korrupsie en is ʼn boete van R150 000 opgelê.

Raphalalani is vantevore ook skuldig bevind op aanklag van korrupsie – ook by die gevangenis – en die hof in Giyani het bepaal dat hy R569 500 moes terugbetaal. Clemenson Carriers moes R369 380 terugbetaal.

Die ander beskuldigdes, insluitend Makamane en die oorblywende maatskappye, sal nog gevonnis word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

SjN ·

Moes hy nie met die eerste voorval al gefire gewees het nie? Kaders beskerm mekaar.

lollapot ·

Hy is van tevore skuldig bevind, maar nie behoorlike gestraf nie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.