Man gevonnis oor seksaanklagte

Argieffoto.

’n Man is Maandag in die Newcastle-streekhof in KwaZulu-Natal tot 30 jaar tronkstraf gevonnis in verband met onder meer die besit van kinderpornografie.

Kol. Thembeka Mbhele, polisiewoordvoerder van KwaZulu-Natal, het gesê die 34-jarige beskuldigde is tien jaar tronkstraf opgelê nadat hy seksuele omgang met ’n minderjarige gehad het, tien jaar tronkstraf vir seksuele gereedmaking en ’n verdere tien jaar vir die besit van kinderpornografie.

Vyf jaar van elke vonnis is vir vyf jaar opgeskort.

Dit volg nadat polisie in Januarie 2015 inligting ontvang het oor ’n 14-jarige meisie wat in besit van kaalfoto’s van kinders op haar selfoon was.

’n Ondersoek deur Newcastle se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe kon destyds vasstel dat die meisie kaalfoto’s van twee jong meisies, onderskeidelik nege en tien jaar oud, geneem en na haar kêrel, die beskuldigde, gestuur het.

’n Ondersoek is van stapel gestuur waarna dit aan die lig gekom het dat die beskuldigde en die minderjarige meisie ook in ’n seksuele verhouding betrokke was. Die polisie het die beskuldigde in hegtenis geneem en kon met behulp van ’n lasbrief sy huis fynkam. Daar is tydens dié klopjag beslag gelê op hardeskywe met kinderpornografie daarop.

In ʼn soortgelyke saak is Jacques Rheeder (35) en Tiaan Malan (31) onlangs in die Durbanse streekshof gevonnis tot vyf jaar tronkstraf elk vir die besit van kinderpornografie.

Mbhele het gesê Rheeder is by sy huis in Riverviewweg in Waterfall, Hillcrest, in hegtenis geneem toe kinderpornografie in November 2016 in die huis gevind is. Malan is in sy woonplek in Ridge Road, Durban, in hegtenis geneem nadat daar in April 2017 op kinderpornografie beslag gelê is.

Al drie beskuldigdes se name sal in die register van seksuele oortreders opgeneem word en hulle is ongeskik verklaar om met kinders te werk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.