Man gevonnis oor student se verkragting, moord

Precious Ramabulana (Foto: Facebook)

Aubrey Manaka (29) is Vrydag in die hooggeregshofsitting in Polokwane gevonnis in verband met die verkragting van en moord op die 21-jarige Precious Ramabulana.

Manaka se verhoor het Woensdag in die hooggeregshof in Polokwane, Limpopo, begin waar hy skuld beken het. Hy is ook van gewapende roof en huisbraak aangekla ná die moord.

Ramabulana is in November 2019 wreed vermoor. Sy was ʼn student aan die Capricorn TVET-kollege en het in haar huurkamer in Mokomene, noordoos van Polokwane, gelê en slaap toe sy aangeval is. Sy is verkrag en meer as 50 keer met ʼn mes gesteek.

Manaka is kort ná die moord by sy ouerhuis in Nyakeleng in Botlokwa in hegtenis geneem. Hy het tydens sy eerste hofverskyning besluit om nie om borgtog aansoek te doen nie en was sedertdien in aanhouding.

Volgens Mashudu Malabi-Dzhangi, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in Limpopo, is Manaka lewenslange tronkstraf opgelê op aanklag van moord, lewenslank op aanklag van verkragting, 15 jaar vir roof met verswarende omstandighede en agt jaar op aanklag van huisbraak met die doel om te verkrag. Hy het skuld beken op alle aanklagte.

“Manaka het in sy pleitooreenkoms gesê hy wou sy liefde aan die oorledene beken,” het Malabi-Dzhangi gesê. “Dit was vir hom liefde met die eerste oogopslag toe hy haar met ʼn vriend sien dans het. Hy het toe besluit om sokker te gaan kyk en ʼn paar drankies geniet. Hy het in die vroeë oggendure teruggekeer en aan Precious se kamerdeur geklop. Sy was bang om die deur oop te maak, het hy beweer.

Aubrey Manaka (Foto verskaf)

“Hy het toe besluit om die venster oop te dwing en toegang tot haar kamer bekom. Die twee het gestoei. Hy het in hierdie stadium besluit om haar met ʼn mes aan te val en sy het verskeie meswonde opgedoen voor hy haar verkrag en daarna weer met die mes aangeval het.”

Hy het in sy pleitooreenkoms om verskoning gevra aan die Ramabulana-familie, Precious se vriende, die gemeenskap en die hof gevra om hom genadig te wees.

“Hy het aan die hof gesê hy het voortgegaan om haar te verkrag selfs al het sy erg gebloei weens die meswonde. Hy het haar nog ʼn paar keer met die mes aangeval sodat sy sou sterf en hom nie kon identifiseer nie.

Trott Mphahlele, staatsaanklaer, het ter verswaring van vonnisoplegging Precious se tannie gevra om te getuig oor die impak wat haar afsterwe op haar ma gehad het. Sy het die hof gevra om die aard van die oortreding in gedagte te hou en dat dit baie gewelddadig en onmenslik was. “Ons het almal die wonde met ons oë gesien.”

Die regter het gesê die optrede is dié van ʼn bose mens en dat die oorledene ʼn wrede dood gesterf het. “Vroue het die reg om vrylik te kan rondloop en die samelewing het beskerming nodig teen mense soos Manaka sodat hulle vertroue in die regstelsel herstel kan word.”

Die vonnisse word gelyklopend uitgedien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Werner

Jammer bring nie n lewe terug nie doodstraf n oplossing

Anton

En oor 15 jaar (minus parool) is sy nogsteeds dood