Man gevonnis vir 11-jarige se moord

hof-hamer

Argieffoto.

Randy Tango is Maandag in die Wes-Kaapse hooggeregshof drie lewenslange vonnisse en ʼn bykomende tien jaar tronkstraf opgelê nadat hy skuldig bevind is aan die moord op die 11-jarige Stacha Arendse.

Tango is skuldig bevind aan drie aanklagte van verkragting en moord. Die hof het ook gelas dat sy naam by die nasionale register vir seksuele oortreders ingesluit moet word.

Eric Ntabazalila, provinsiale woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het gesê een van die verkragtingsaanklagte hou verband met die verkragting van ʼn 14-jarige meisie wat in 2008 plaasgevind het. “Die meisie was ʼn vriendin van [Tango se] suster,” het hy gesê.

Volgens Ntabazalila het Tango in sy pleitverduideliking erken hy het geweet die meisie is minderjarig. “Hy het die meisie en haar vriend genooi om ʼn sigaret saam met hom te kom rook. Terwyl sy vriende die meisie se vriend besig gehou het, het hy haar na ʼn agterkamer gelei in Matroosbergsingel in Tafelsig in Mitchells Plain en haar daar verkrag.”

ʼn Kind is die volgende jaar ná die verkragting gebore. Die kind is tans agt jaar oud.

“Volgens Tango het hy en die verkragtingslagoffer ʼn drie jaar lange verhouding gehad ná die verkragting en saamgewoon,” het Ntabazalila gesê.

Tango het op 27 Maart 2017 Arendse, wat vier huise van hom af gewoon het, verkrag en vermoor. “Hy het erken hy het Arendse geken van sien en het ook haar ouers geken. Hy het geweet sy was 11 jaar oud. Hy het haar dopgehou van sy erf af en ʼn ander kind gestuur om haar te roep. Sy het die opdrag gehoorsaam omdat ʼn volwassene haar geroep het. Hy het haar in sy erf in geroep, sy huis daarna ingegaan en sy het hom gevolg,” het Ntabazalila gesê.

Ntabazalila vertel dat Tango die deur agter hom toegemaak het. Die meisie het hom gesmeek om haar nie seer te maak nie. Sy het ook belowe om enigiets vir hom te doen. “Hy het haar gevra om saam met hom te slaap. Hy het haar na ʼn slaapkamer geneem en haar daar verkrag. Sy het hom gesmeek om op te hou en toe hy weier, het sy gesê sy sal vir haar ma vertel.”

Tango het glo vir haar gesê hy “gaan nie tronk toe hiervoor nie” en haar toe verwurg. Hy het haar liggaam in ʼn laken toegedraai, dit in ʼn asblik gegooi en die asblik na die Tafelsig-sokkerveld gestoot. “Hy het haar liggaam in die bosse gestort nadat hy haar klere uitgetrek het, dit saam met die laken in ʼn ander plek gestort en toe die asblik huis toe geneem,” het Ntabazalila gesê.

Tango het erken hy wou die meisie doodmaak omdat hy bang was sy vertel vir iemand wat gebeur het. Hy is op 28 Maart vanjaar in hegtenis geneem.

Die NVG het die vonnisse verwelkom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.