Man gevonnis vir 86-jarige se wurgmoord

polisie-huisroof-crime

Argieffoto: SAPD/Facebook

ʼn Man is vandeesweek in die Wes-Kaapse hooggeregshof gevonnis vir die moord op Daphne Mavis Higgins (86), die vrou wat in Mei 2015 wreed in haar huis in Bellville vermoor is.

Joseph Vuzile Mbata is vroeër vandeesweek skuldig bevind op aanklagte van moord, huisbraak en roof met verswarende omstandighede. Hy is Donderdag tot effektief 20 jaar tronkstraf gevonnis.

Maroela Media het vroeër berig Higgins se liggaam is op 15 Mei 2015 in haar huis in Heemstede, Groenvallei, aangetref. Sy het bloed aan haar kop en gesig gehad en haar hande was met ʼn pers trui agter haar rug vasgebind. Die hof het gedurende die verhoor gehoor Higgins is verskeie kere aangerand en verwurg.

Volgens die polisie was Higgins se huis omgekeer en is laaie oopgetrek soos haar aanvaller daardeur gesoek het. Higgins se motor, ʼn rekenaar, televisiestel en ander huishoudelike items is uit haar huis gesteel. Haar motor is die dag ná haar moord ongeveer 1 km van haar huis gevind.

Dit het tydens die verhoor aan die lig gekom dat Mbata saam met nog ʼn man in die week voor Higgins se dood by haar huis gewerk het waar hulle die dak van ʼn braaikamer herstel het. Jaziem Adams, wat saam met Mbata gewerk het, het in sy getuienis gesê hy en Mbata het terwyl hulle by die huis gewerk het “ʼn skralerige, ouerige vrou” by die huis gesien, maar nie met haar gepraat nie. Adams het gesê hy het eers ʼn paar dae ná Higgins se moord gehoor die vrou by wie hulle die vorige week gewerk het, is vermoor.

Mbata is ʼn paar dae ná Higgins se moord in hegtenis geneem nadat van die goed wat uit haar huis gesteel is in sy besit gevind is. Hy het deurentyd skuld op die aanklagte teen hom ontken.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Ilse ·

Verskoon my, maar hoe oud is die Mbata en hoe kry hy net 20 jaar vir ‘n moord? Maak nie sin nie.

Susan ·

Seker omdat dit maar net die eerste moord is wat hy gepleeg het……
Hy het gegaan met voorbedagte rade. ‘n Ou vrou wat haarself nie kon verdedig nie dood gemaak. As hy kon werk, was hy seker nie minderjarig nie….. Nee hierdie ligte vonnis maak vir my ook geen sin nie.

Carel ·

Het iemand al bietjie bepaal of al hierdie kriminele werklik die vonnisse uitdien

Cherokee ·

As jy self dit bepaal sal jy nie ander vra om dit te doen nie. Jou vraag bewys egter dat jy dit nie doen nie, Publieke Media verskaf genoeg inligting om slimmer te wees as wat ons was toe Oom Jan met die Kaap de Goede Hoop & kie voet aan wal gesit het.

Chaparel ·

Ek weet nie hoe die regstelsel werk nie maar vir moord moet tog lewenslange gevangenisstraf op staan en dit moet geld vir enige moord wat gepleeg word.
Die moordenaar dien nooit sy volledige straf ( in die geval 20 jaar) uit nie want weens goed gedrag en ander faktore sal hy weer vry kan rondloop na 8 tot 10 jaar.
Lewenslang moet wees, straf uitdien tot die dood daarop volg.

Sw ·

20 jaar effektiewe tronkstraf is hopeloos te lig as jy in ag neem wat hy aan die arme weerlose bejaarde gedoen het.
Al was dit sy eerste moord.
G’n wonder hier heers anargie en wreedheid in land nie.

Feite ·

Soos ek al gesê het
Vermoor jou eie ma en jy sit lewens lank.
Vermoor ń vreemdeling en jy kry ń ligte straf

Frik ·

Hy het onskuldig gepleit en omdat hy almal se tyd gemors het moes dit as verswarend teen hom getel het en hy n ekstra 10jaar gekry het.

CHRISTA ·

Misdaad is deesdae die hoofbestanddeel van ons land – nie meer ons land se natuurskoon nie!! Verlede jaar Junie, terwyl ek in die Kerk was, het iemand by ons huis ingebreek! Die agterdeur het oopgestaan, maar hulle het voor ingebreek want daar is ‘n kantoorkompleks waar niemand oor die naweek is nie – agter het ek bure in ‘n dupleks. My man was bedlêend. Hy het sy heup gebreek, het Parkinsons en Alzheimers gehad. Hulle het IN ons slaapkamer die kaste oopgebreek, goed op die vloer uitgesmyt terwyl hulle vir geld en juwele gesoek het terwyl my man magteloos als moes aanskou! Hulle het HOM nie aangeraak nie wat my oortuig dat hulle “inside” informasie gehad het dat hy hulle nie eers sou kon uitken nie!! Ons Polisie het nie eers gekom om vingerafdrukke te neem nie en 6 weke later is my man OORLEDE!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.