Kapt. Gerda Swart, woordvoerder van die polisie, het gesê Sipho Mayinje is Donderdag in die Port Elizabeth-streekhof gevonnis vir die aanval op 30 Oktober 2014. Die bejaarde egpaar, albei in hul 70’s, is in hul huis in Addo in die Oos-Kaap aangeval. Hulle is vasgebind en beroof.
Volgens Swart is drie mans op 1 November 2014 in Motherwell in hegtenis geneem in verband met die voorval. Die voertuig wat tydens die aanval gesteel is, is ook kort hierna teruggevind. Mayinje is die enigste beskuldigde wat gevonnis is in verband met die voorval aangesien een van die ander beskuldigdes in die tronk dood is voor hy gevonnis kon word en die ander beskuldigde nie positief met die misdaad verbind kon word nie en vrygelaat is.
Mayinje is tot sewe jaar tronkstraf gevonnis vir huisbraak met die bedoeling om te roof, sewe jaar tronkstraf vir huisroof en 15 jaar tronkstraf vir ontvoering. Volgens Swart hou die ontvoeringsklag verband met die egpaar wat vasgebind is. Mayinje sal effektief 29 jaar tronkstraf uitdien.
Baie goeie vonnis. Mooi so!
Moes nie minder as 20 jaar gewees het nie.