Man gevonnis vir dubbele plaasmoord

Piet en Tilla van Zyl. (Foto: Facebook)

Net een van agt verdagtes wat in hegtenis geneem is in verband met die moord op ’n boer en sy vrou van Roedtan in Limpopo, is uiteindelik na meer as vier jaar vir die dubbele plaasmoord tronk toe gestuur.

Mpho Penuel Mbuyane is Dinsdag in die hooggeregshof in Polokwane tot twee keer lewenslange tronkstraf gevonnis vir die moord op Piet van Zyl (68) en sy vrou Tilla (66). Mbuyane is tot ’n bykomende 15 jaar tronkstraf gevonnis nadat hy op drie aanklagte van huisroof skuldig bevind is.

Die Van Zyl-egpaar is in Augustus 2017 op hul wildsplaas Kalkpoort aangeval en vermoor. Die egpaar is in die oggendure van 20 Augustus in hul slaapkamer oorrompel nadat die deur afgebreek is.

Hulle is met pistole aangehou en die huis geplunder. Die aanvallers het die egpaar doodgeskiet vermoedelik oomblikke voor hulle gevlug het. Die Van Zyls se liggame is later die oggend deur familielede gevind.

Altesaam agt verdagtes is kort na die moorde in hegtenis geneem tydens gesamentlike operasies deur verskeie eenhede van die polisie en Heritage Protection Group (HPG). Tydens die verhoor is die aanklagte egter teen die ander sewe beskuldigdes teruggetrek nadat slegs Mbuyane positief met die misdaad verbind kon word.

Die polisiebestuur in Limpopo het die vonnis verwelkom. “Die vonnis moet ’n duidelike boodskap oordra aan ander misdadigers dat die polisie altyd meedoënloos sal wees wanneer ons op die spoor is van die wat gruwelike misdade gepleeg het en seker maak dat hulle aan die pen ry,” het lt.genl. Thembi Hadebe, provinsiale polisiekommissaris, gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Hennie J ·

Agt verdagtes kort na die voorval in hegtenis geneem…….sewe vrygelaat weens gebrek aan getuienis. As dit nie spreek van swak ondersoekwerk nie dan weet ek nie. Dan het die provinsiale polisie komissaris van Limpopo nog die vermetelheid om die goeie werk te prys. Verstommend!!

Casper ·

Die vonnisse stuur geen boodskap uit aan ander misdadigers nie want na hierdie aanvalle en moorde was daar vele ander.Die enigste afskrikmiddel is die galg.

Anel ·

Een uit 8 gevonnis en die polisie is in ekstase.!! Die ander 7 gaan seker nou lustig voort!!! Wat ‘n klug!

Louis ·

Pateties. Slegtie polisie ondersoek werk. 7 krimenele loop vry

Swerwer ·

Dit is sò oulik, na 4 jaar????????? Nee regtig, mens kan maar net wonder wat van die ander geword het.

Willem ·

Wonderlike ondersoekwerk! AGT kaboutermannetjies en net één gaan sit. Sewe ander loop skotvry om nóg eerlike, hardwerkende boere te vermoor! Dit na viér jaar! Wonder hoeveel mense nou nóg deur hulle vermoor gaan word. ????

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.