Man gevonnis vir Emslie-plaasmoord

Petrus Moyo (Foto: Facebook)

Petrus Moyo, die man wat skuldig bevind is vir die moord op dr. Werner Emslie (55) van die Lephalale-omgewing in Limpopo, is Woensdag tot effektief 58 jaar tronkstraf in die rondgaande hooggeregshof in Lephalale gevonnis.

Dít volg nadat Moyo Dinsdag skuldig bevind is op onder meer aanklag van moord en poging tot moord op Emslie se vrou, dr. Mariëtte Emslie. Mariëtte is tydens die aanval erg aangerand en geskiet. Volgens mediaberigte is sy verlam gelaat.

Moyo is ook op ʼn reeks ander aanklagte skuldig bevind, insluitend roof met verswarende omstandighede, ontsnapping uit aanhouding en diefstal.

Kol. Moatshe Ngoepe, woordvoerder van die polisie, sê Moyo is lewenslange tronkstraf opgelê vir die moord op Emslie. Hy is tot ʼn verdere 15 jaar tronkstraf gevonnis vir poging tot moord.

Moyo is ook 15 jaar tronkstraf opgelê op twee aanklagte van roof met verswarende omstandighede, een jaar vir betreding, drie jaar vir huisbraak, drie jaar vir diefstal, drie jaar vir ontsnapping uit wettige aanhouding, drie jaar vir opsetlike saakbeskadiging, vyf jaar vir ʼn tweede aanklagte van huisbraak, drie jaar vir ʼn tweede aanklag van diefstal, vyf jaar vir ʼn derde klag van huisbraak en ʼn verdere drie jaar vir ʼn derde klag van diefstal.

Die Emslie-gesin. Foto: Via Facebook.

Van dié vonnisse word samelopend uitgedien.

Maroela Media het vroeër berig Emslie het op 20 September 2017 omstreeks 20:00 buite sy huis op sy plaas in die Afguns-omgewing buite Lephalale gesit toe vier gewapende mans hom aangeval en doodgeskiet het. Sy vrou, Mariëtte, (in daardie stadium 55 jaar oud), ʼn algemene praktisyn op die dorp, en die egpaar se dogter Barbara (in daardie stadium 19 jaar oud) is ook aangeval.

Werner was ʼn geliefde boer met ʼn doktorsgraad in bedryfsgesondheid.

Moyo, van Zimbabwe, het twee keer uit aanhouding ontsnap, maar is telkens weer aangekeer.

Lees alle vorige berigte oor die Emslie-plaasmoord op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

leser ·

goed gedoen, sterkte aan emslie familie
jammer vonnisse is gelyklopend
totdat zimbabwe kapsie gaan maak oor die arrestasie en aanhouding van sy mense

GRIET ·

LEKKER…pasêlla kos,tv+akkomodasie v dié moordenaar…hy sal wens sy vonnis was langer

Rikku ·

Hy sal baie gou nuwe Vriendelike Vriendtjies ontmoet in die Tronk.

Don Emslie ·

Niks sal my broer Werner terug bring nie, maar ek het ongelooflike respek vir ons regsstelsel gekry. Baie dankie aan AO Oosthuizen (ondersoek beampte) en sy kollegas, Adv Kobus Jacobs.

ANA ·

Mens het nie regtig woorde om te troos nie,Don…
Mag Sy Heilige Gees jul Trooster wees en Genesing bring vir julle ????

Herman ·

En as ons weer hoor is hy uit op borg, of ontsnap, of so iets…

Annerette ·

Dit maak nie saak hoe lank hy tronk toe gaan nie sy gevangenisskap gaan nie die oorledenes weer lewendig maak en die familie se gebroke harte herstel nie.

Stripes ·

Ek verstaan nie so lekker nie. Hy is effektief 58jr tronkstraf opgelê. Vonnise word gelyktydig uitgedien. Langste vonnis is 15jr so hy is effektief ‘n 15 jr vonnis opgelê waarvan hy heelwaarskynlik nie eens 5 jr gaan uitdien nie. My vraag is dus: Hoekom sê 58jr as dit in werklikheid net 15jr is waarop hy nog afslag gaan kry ook? Kan iemand my dalk help om dit te verstaan want my kop is te plat om dit te verwerk.

Skroef ·

Die regter neem blykbaar nie deel aan die “regter wat die langste tronkstraf opgelê het” maraton nie.

SARIE VAN HEERDEN ·

geen wonder die een na die ander verlaat ons land nie. Ons veiligheid is laaste op enige lys

Wonder net... ·

Net 58 jaar? Gaan my liewe verstande te bowe. Maar God slaap nie….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.