Man gevonnis vir Kroonstad-vrou se wrede moord

Engelé Rossouw (Foto: Facebook)

“My suster het so verskriklik gely in haar laaste oomblikke. Haar moordenaar moet vir altyd agter tralies bly. Hy is ʼn gevaar vir die samelewing.”

Só het Zanelle Wessels gesê nadat John Mohoboko (31) tot lewenslange tronkstraf gevonnis is vir die moord op haar suster Engelé Rossouw (47).

Mohoboko is ook tot ʼn bykomende 20 jaar tronkstraf gevonnis vir roof met verswarende omstandighede nadat hy Rossouw, bestuurder van die Shalom-gastehuis in Kroonstad in die Vrystaat, op 24 Desember 2016 vermoor het.

Rossouw se liggaam is in die bad van die huis in Kroonstad waar sy saam met haar ma, Elsabé Jooste, gewoon het gevind. Daar was ʼn plastieksak ook haar kop getrek.

Volgens Wessels het hulle gehoop haar suster het haar bewussyn tydens die aanval verloor en nie pyn ervaar nie, maar hulle het eers in die hof gehoor hoe erg sy aangerand is.

“Daar was blou merke aan haar keel soos hy haar probeer verwurg het. Sy het uiteindelik versmoor weens die plastieksak. Haar linkerlong en bors is erg beskadig – ons vermoed hy het haar verskriklik hard geslaan of met sy knieë op haar bors gestaan om haar onder die water te hou.”

Engelé Rossouw (regs) saam met haar sussie Zanelle Wessels (links) en hul ma (Foto verskaf aan Maroela Media)

Wessels het gesê hulle ma kry baie swaar. “Ek het ook in die hof getuig dat my ma aan posttraumatiese stres-sindroom ly. Sy moes uit die huis waar sy 52 jaar gewoon het trek en bly nou in ʼn aftreeoord in Pretoria. Dit was so ʼn emosionele skok. ʼn Mens kom regtig nie oor so iets nie. ʼn Mens gaan aan omdat jy moet, maar dit is baie, baie hartseer.”

Mohoboko het vir ʼn paar maande as tuinier gewerk by die huis waar Rossouw saam met haar ma gewoon het. “Die regter het hom as ʼn psigopaat en narsis beskryf en gesê hy is ʼn gevaar vir die samelewing. Daar is ook beveel dat hy eers deur ʼn psigiater geëvalueer moet word voordat hy enigsins vir parool in aanmerking kan kom en dat ons in die saak geken moet word,” het Wessels gesê.

“Die regter en die staatsaanklaer was regtig briljant en die speurder wat die saak ondersoek het, het haar werk so goed gedoen. Sy het dag en nag gewerk.”

Wessels, haar gesin en ma was by hul strandhuis in Groot-Brakrivier toe Rossouw vermoor is. “My ma het Vrydagaand nog met Engelé gesels. Ons het die Saterdagmiddag ʼn SMS vir haar gestuur, maar niks van haar gehoor nie. Ek het haar die aand ook probeer bel, maar kon nie antwoord kry nie. Toe ons Sondagoggend nie ʼn ‘Geseënde Kersfees’-SMS van haar ontvang nie, het ons onraad vermoed en die polisie in kennis gestel.”

Veiligheidswagte by die Moqhaka-munisipaliteit het intussen Sondag onraad vermoed oor ʼn wit Volkswagen Jetta wat by die kantoor parkeer gestaan het. Dit was Jooste se motor wat ná die moord gesteel is.

“Ons het toe nog nie eers geweet my sussie is vermoor nie. Ons het nog gedink sy gaan ons verras en by die see kom kuier.”

Mohoboko is op 29 Desember, enkele dae ná die moord, in hegtenis geneem.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Karl ·

MM, hoekom plaas julle NOOIT die skuldige se fotos nie? Maar wel met ander sake waar die kleur omgeswaai is?

Ex T ·

Nee, wys ons eerder sy misdaad rekord, of is dit sommer beginners luck?

Casper Labuschagne ·

Ek het haar goed geken, ons ouers was huisvriende wat oor en weer gekuier het. Maande voor haar dood het ek nog ‘n webblad vir haar gastehuis gedoen en sy het dikwels by my werkplek aangekom. Twee jaar gelede, op Oukersdag is sy vermoor, al wat sy nog wou doen was om die gastehuis te verkoop en saam met haar Ma langs die see te woon.

Op 26 Maart hierdie jaar is nog ‘n sakevrou, Zora Jogee brutaal vermoor, skuins oorkant die huis waar Engelie self vermoor is. Daar is gereeld berigte van sakevroue wat in die Vrystaat vermoor word, dit is nie ongewoon is nie. Parys, Bethlehem, Reitz, Vredefort, Welkom, Kroonstad – dit gebeur oor en oor. Vrouemaand het gekom en gegaan sonder ‘n enkele woord oor die brutale moorde op hierdie sakevroue wat sagte teikens is.

Die mens se oorlewing is om hierdie dinge diep weg te pak, so diep dat dit glad nie in jou daaglikse gedagtegang lê nie, maar skielik is haar foto weer voor jou en alles is kom weer terug. Daar is ‘n diep wond in ons gemeenskap, ons mense, iets duister, diep en so enorm; soveel moorde, soveel plaasmoorde soveel lewens waarvan die vlam vroegtydig met ‘n wrede brutaliteit uitgedoof word. Elkeen wat agterbly sit met sy eie emosies wat weggepak moet word, bloot sodat ons in staat is om aan te kan gaan met ons lewens. Vir hoe lank kan dit so aangaan en waar gaan dit alles eendag eindig?

Casper Labuschagne ·

@Esther ek is ‘n voorstaander van die doodstraf vir misdade wat die regverdig. Maar ek is bevrees dat sou die doodstraf ingestel word, sal dit bloot toegepas word soos wette teen rassisme nou toegepas word waarna effektief slegs wit misdadigers die doodstraf sal kry.

Gesiggie ·

Tronkstraf… werk nie vir Moordenaars, bring die DOODSTRAF terug in SA… As hul wil moor, moet hul lewe ook geneem word… al hoe die Moorde gaan stop? ons mense word uitgewis, en hul het n lekker lewe in die tronk terwyl familie moet swaarkry omdat hul n geliefde verloor het. Hierdie vrou het dit nie verdien

Ben ·

Hier is te veel moorde in hierdie land. Dit moet gestop word. Die enigste manier om dit te doen is om die doodstraf terug te bring net soos Gesigie hierbo se. Die probleem is dat onskuldige mense kan ook veroordeel kan word deur oneerlik regs praktyke. Ek stel voor dat waneer ‘n persoon “‘n dubbel moord of meer gepleeg het op verskillende tye”, dan is daar mos onklinkbare beswyse dat die persoon skuldig is. Vir hom die doodstraf binne 48 uur soos in Botswana. Dink hier oor. Dit gaan nie al die moorde oplos nie maar dit is ‘n begin om die reeks moordenaars uit die samelewing te verwyder.

Esther Elizabeth Nigrini-Brink ·

DOODSTRAF!!!!!!!! TEMINSTE SAL DIE TRONKE MEER PLEK HE VIR ANDER OORTREDINGS

Anoniem ·

Ek stem nie saam nie. Dink jy regtig die ANC regering is bevoegd daarvoor ? Dit sal baie partydig toegepas word.

Sputnik ·

Watter party word deur die meerderheid regters in dié land verteenwoordig? Dink net bietjie daaroor.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.