Man gevonnis vir moord op Human-egpaar

Tewie en Eurika Human. Foto: Verskaf

Die 27-jarige Tamsamqa Howard Sishuba is Dinsdag gevonnis vir die moorde op Tewie (72) en Eurika (62) Human wat in Junie verlede jaar in hul huis in Grootbrakrivier in die Wes-Kaap wreed vermoor is.

Die Mossel Bay Advertiser berig Sishuba is tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir elk van die twee moordaanklagte, asook ʼn bykomende 15 jaar tronkstraf op elk van die twee aanklagte van roof met verswarende omstandighede.

Maroela Media het vroeër berig die Human-egpaar is op 14 Junie 2016 in hul huis in Sandhoogtepad aangeval. Tewie se liggaam is op 19 Junie 2016 in die motorhuis aangetref en Eurika se liggaam in die egpaar se bed. Tewie is sewe keer met ʼn panga oor sy kop geslaan en Eurika is met ʼn selfgemaakte mes in die hart gesteek.

Daar was geen tekens van gedwonge toegang tot die egpaar se huis nie, wat die polisie laat vermoed het dat iemand wat die egpaar geken het by hul moord betrokke was. Verskeie items is uit die huis gesteel en R14 000 is op die dag van die moord vanuit die Humans se bankrekening na ʼn bankrekening in Lesotho oorgeplaas.

Sishuba is in Julie 2016 in verband met die moorde in hegtenis geneem nadat forensiese bewyse wat op die toneel gevind is hom met die moorde verbind het. Hy het egter deurentyd die blaam vir die moorde op Lebohang Rethabile Lekoro, ʼn werker van die Humans, gepak.

Sishuba het getuig hy was onder die indruk dat hy die dag van die moorde saam met Lekoro vir die Humans werk sou doen. Volgens Sishuba het Lekoro vir Tewie met ʼn panga aangeval. Sishuba het ook beweer dat Lekoro hom gedwing het om ook vir Tewie een keer met die panga te slaan.

Lekoro is steeds op vrye voet nadat hy vermoedelik na ʼn buurland gevlug het. ʼn Beloning is intussen vir sy inhegtenisneming uitgeloof.

Familielede van die Human-egpaar het buite die hof aan die Mossel Bay Advertiser gesê hulle is tevrede met die vonnis wat Sishuba opgelê is.

Bron: Mossel Bay Advertiser

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

JUSTICE ·

En ons tax betalers betaal nou vir al sy krag, water en etes. Is dit n straf vir daai twee lewens en hulle famielie wat agterbly?

Adam ·

Dit sal interessant wees om te hoor wat se vonnis jou tevrede sal stel, inaggenome die feit dat die doodstraf nie huidiglik meer ‘n opsie is nie.

Afrikaanse Knaap ·

As die ANC nou die grondwet wil en kan verander, hoekom verander hulle dit nie dat jou reg om lewe van jou ontneem mag word deur die staat as jy sonder enige twyfel van die staat ‘n ander persoon van al sy mense regte ontneem het deur hom of haar dood te maak.

Debbie Hendriks ·

Ek is nie gemaklik met die doodstraf nie. Die rede? In ons korrupte land, wat keer die korruptes om onskuldige mense te laat skuldig bevind en hul dan te vonnis tot die dood… Nee jong, ek het nie baie geloof in die regverdigheid nie. Dit is soos ‘n joker in ‘n pak kaarte. Hy kan vir enige iets gebruik word. Die doodstraf is ‘n “joker kaart” wat my bang maak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.