Man gevonnis vir moord op sy meisie en 3-jarige kind

Argieffoto (Foto: QuinceCreative/Pixabay)

Thembinkosi Thatios Ngcobo (62) is in die Durbanse hooggeregshof tot 35 jaar tronkstraf gevonnis ná hy skuld beken het op aanklag van die moord op sy 30 jarige meisie, Ntombifuthi Happiness Blose, en hul driejarige kind Minenhle Swelihle Blose. Die voorval het in September 2020 in Phoenix plaasgevind.

Volgens Natasha Kara, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het Ngcobo in sy pleitooreenkoms gesê hy en Ntombifuthi was sedert 2016 in ʼn verhouding. In daardie stadium het hy in Pietermaritzburg gewoon en gewerk en sy het gereeld by hom gaan kuier. Hul kind, Minenhle, is in 2017 gebore.

Ngcobo is in 2020 oorgeplaas om in Durban te gaan werk en hy het in Phoenix gewoon terwyl Ntombifuthi steeds gereeld by hom gekuier het. In September 2020 het hulle besluit om saam in te trek en sy het gesê sy gaan haar klere haal by die huis waar sy gewoon het.

Sy het later teruggekeer om te sê haar ekskêrel het geweier dat sy haar besittings vat.

Ngcobo was verbaas toe hy hoor dat sy nog by haar ekskêrel bly.

Toe Ntombifuthi die volgende dag haar klere gaan haal, het die ekskêrel Ngcobo gebel om te sê dat sy MIV-positief is. Sy het teruggekeer huis toe en hulle het gaan slaap.

Ngcobo sê hy was egter oorweldig deur woede en emosies en het ʼn jagmes gegryp wat in ʼn sak daar naby was. Die kind is noodlottig beseer omdat sy aan haar ma bly vasklou het.

Ngcobo het van die toneel gevlug toe die bure geskree het dat hulle die polisie ontbied. Hy het in die rigting van die N2-snelweg gehardloop en wou sy eie lewe neem, maar het besluit om na die huis terug te keer en hy is in hegtenis geneem.

Kara sê Ngcobo is tot 20 jaar tronkstraf gevonnis vir Ntombifuthi se moord en 15 jaar vir Minenhle. Die vonnisse sal gelyklopend uitgedien word.

Senior staatsadvokaat Denardo Macdonald het die saak suksesvol afgehandel. Die NVG verwelkom die suksesvolle vervolging, het Kara bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Cherokee

Die eerste sin en voorlaaste paragraaf is teenstellend. Die 35 jaar is ‘n bluf. En dit is ‘n vraag waarom twee vonnisse wat met 5 jaar verskil. Waarom 5 jaar minder vir die kind. Dit behoort werklik lewenslank gewees het.

ES

Sjoe jy moet darem maar harteloos wees om ‘n kind dood te maak, nietemin die ma van jou kind.