
Argieffoto
’n Man (44) is verlede Vrydag tot 19 jaar tronkstraf gevonnis vir die moord op sy vrou en die aanranding van sy twee stiefseuns.
Die Itsoseng-streekhof in Noordwes het Simon Nthutang Makgetla skuldig bevind aan die moord op sy vrou, Lebogang Makgetla (40), in Desember 2015 by die Verdwaal 2- informele nedersetting naby Itsoseng.
Volgens brig. Sabata Mokgwabone, woordvoerder van die polisie, is die polisie op 12 Desember 2015 omstreeks 23:45 na die toneel ontbied waar die liggaam van ’n 40-jarige vrou in die kombuis gevind is. Dié slagoffer is geïdentifiseer as die skuldige se vrou.
“Makgetla en sy vrou was na bewering in ’n woordwisseling betrokke toe hy haar net daarna met ’n mes gesteek het,” sê Mokgwabone.
Die beskuldigde se twee stiefseuns, William Sekolo (24) en Letlhogonolo Sekolo (22), was in hul kamer toe hulle hul ma hoor skree het. Hulle het hulle kombuis toe gehaas om ondersoek in te stel waarna Makgetla hulle glo ook met ’n mes aangeval het. Dié twee jong mans het beserings tydens die voorval opgedoen en is na die naaste hospitaal geneem vir mediese behandeling.
Mokgwabone vertel Makgetla is ’n paar dae ná die voorval opgespoor en in hegtenis geneem. Hy is skuldig bevind en tot 15 jaar tronkstraf gevonnis vir die moord op sy vrou. Hy is tot ’n verdere vier jaar tronkstraf gevonnis op twee aanklagte van aanranding met die opset om ernstig te beseer.
Makgetla is ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit. Die vonnisse sal nie gelyklopend uitgedien word nie.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
6 Kommentare
15 Jaar vir moord maar 25 jaar vir verkragting – verduidelik ‘n bietjie hoe ons regstelsel werk….
Nou wonder ek net, behalwe vir die ou vonnissie, wat het die vuuwapen lisensie daarmee te doen. Of gaan hy wou aansoek doen vir ‘n lisensie in die tronk?
Wat het geword van lewenslank as n vrou of kind deurloop met geweld???