Man gevonnis vir panga-moord

court-hammer_thumb`n Man van Saldanha is Maandag in die Wes-Kaapse hooggeregshof tot 25 jaar tronkstraf gevonnis nadat hy `n vrou met `n panga vermoor het.

Marlon van Wyk (26) het `n pleit- en vonnisooreenkoms aangegaan waarvolgens hy skuldig gepleit het op aanklag dat hy Sinodia Schutt (26) wederregtelik en opsetlik vermoor het. Schutt is in Februarie verlede jaar in haar huis in Saldanha vermoor.

Van Wyk beweer dat die moord in sameswering met sy medebeskuldigdes, Sharif Padaychee en Jerome Januarie, gepleeg is. Padaychee en Januarie was ook in die hof. Die staat het in ruil vir Van Wyk se pleitooreenkoms twee aanklagte teen hom, waaronder roof met verswarende omstandighede, teruggetrek.

Padaychee en Januarie het nie pleitooreenkomste met die staat aangegaan nie en sal weer op 8 Augustus in die hof verskyn. Aanklagte teen `n vierde beskuldigde, Ricardo Williams, is verlede week teruggetrek.

Van Wyk, geklee in `n sweetpak, het met sy kop gebuig en oë toegeknyp gestaan terwyl Romay van Rooyen, die staatsaanklaer, die besonderhede rondom sy pleitooreenkoms aan die hof voorgelees het.

Volgens die pleit- en vonnisooreenkoms het Padaychee aan Van Wyk en Januarie opdrag gegee om Schutt te vermoor in ruil vir vyf gram tik en R40, 000.

Op 26 Februarie verlede jaar, het Schutt die deur vir Van Wyk en Januarie oopgemaak. Hulle het almal saam tik gebruik.

Die mans het met Schutt se toestemming na haar badkamer gegaan om Mandrax te gebruik en dagga te rook, terwyl sy winkel toe is om sigarette te koop.
Volgens die pleitooreenkoms het Schutt teruggekeer waarna Van Wyk haar van agter af gewurg het totdat sy bewusteloos was. Van Wyk beweer dat Januarie daarna vir Schutt met `n skerp voorwerp of panga geslaan het.

Van Wyk beweer hy het Schutt ook met die wapen geslaan nadat sy reeds aan haar beserings beswyk het. Die mans het hierna gevlug.

Regter Robert Henney het bevestig dat Van Wyk gewilliglik die ooreenkoms aangegaan het en dat hy die inhoud en gevolge daarvan verstaan. Henney het die verswarende omstandighede rakende die misdaad aan die hof voorgelees.

Hy sê Van Wyk het Schutt geken, dat sy `n kwesbare individu was en haarself nie teen die mans kon verdedig nie. Van Wyk het ter strafversagting skuld erken en berou getoon vir sy dade. Daar is ook aangevoer dat Van Wyk ‘n jong gesin het en dat hy ten tyde van die misdaad onder die invloed van dwelms was.

Henney was tevrede dat dié omstandighede geregverdig het dat daar van die minimum vonnis van lewenslange tronkstraf afgewyk word. Van Wyk se getuienis sal deur die staat gebruik word in die saak teen die ander beskuldigdes. – Sapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.