Man gevonnis vir polisieman se skietdood

Lt.kol. Reinier Lagois. Foto: Verskaf

ʼn Polisiekonstabel van Pretoria is verlede week gevonnis vir die moord op lt.kol. Reinier Lagois (42) wat in Januarie 2016 koelbloedig voor sy huis in die Moot doodgeskiet is.

Rishen Rampashard, ʼn konstabel destyds verbonde aan die Pretoria-Wes-polisiestasie, is Vrydag in die hooggeregshof in Pretoria tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir die moord op Lagois. Hy is ook ʼn bykomende 15 jaar tronkstraf opgelê vir roof, nog 15 jaar vir die onwettige besit van ʼn vuurwapen en drie jaar vir die onwettige besit van ammunisie.

Maroela Media het vroeër berig Lagois se liggaam is op 18 Januarie 2016 buite sy huis aangetref met 14 koeëldoppies op die toneel. Sy blougrys Toyota Corolla was ook vermis en daar is aanvanklik bespiegel dat Lagois moontlik die slagoffer van ʼn rooftog of kaping was.

Dit het egter tydens die verhoor aan die lig gekom dat ʼn liefdesdriehoek die rede vir die moord op Lagois was.

Die hof het gehoor Rampashard was in ʼn romantiese verhouding met Caroline Naidoo, Lagois se verloofde. Naidoo en Lagois was glo ten tyde van die moord nie op ʼn goeie voet nie hoewel hulle nog in dieselfde huis gebly het. Bure het in die hof getuig hoe hulle op die betrokke dag omstreeks 16:30 verskeie harde skote gehoor het, maar Naidoo, haar dogter en die huishulp wat in die huis was, het getuig hulle het niks gehoor nie.

Die Lagois-familie het ná die moord die bekende speurder Mike Bolhuis se ondersoekmaatskappy, Specialised Security Services, genader om met die ondersoek na die moord te help.

Lagois se motor wat langs die pad gevind is. Foto: Verskaf

Werner Koekemoer van Specialised Security Services het aan Maroela Media gesê Lagois is met sy eie dienspistool geskiet.

Dié dienspistool is drie maande ná die moord in die motor van nog ʼn polisiebeampte, konst. Mohammed Alli van die Laudium-polisiestasie, aangetref. “Alli is nooit aangekla in verband met die moord of die besit van die vuurwapen nie. Hy het egter twee dae nadat die vuurwapen gevind is ‘selfmoord gepleeg’,” het Koekemoer gesê.

“Alli se familie het ons ook genader om ondersoek in te stel. Hulle ontken ten sterkste dat hy selfmoord gepleeg het. Daar word beweer dat hy homself in sy kar vergas het, maar die vensters was oop toe hy gevind is en volgens die familie het hy verskeie gebreekte bene en ander beserings gehad.”

Koekemoer sê daar het tydens Rampashard se verhoor genoeg inligting aan die lig gekom vir hulle om te vermoed dat daar vuilspel by Alli se moord betrokke was en dit word nou verder ondersoek.

Rampashard het aanvanklik in ʼn erkenning aan die polisie gesê hy het Lagois in opdrag van Naidoo vermoor. Hy het egter nooit sy bekentenis afgehandel nie en het in die hof aangevoer hy is deur die polisie gedreig en aangerand om die bekentenis af te lê.

Gedurende die verhoor het hy deurentyd ontken dat hy by Lagois se moord betrokke was, maar sy weergawe van die gebeure is deur regter Bert Bam verwerp.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Piet ·

Los mense wat getroud is uit tot hulle finaal geskei is. Saam bly of nie meer saam nie is irrelevant, getroud is getroud- bly weg!

LH ·

Regter Bert Bam? Ek hou baie van ‘n regverdige man!
Mag jy saggies rus Lt. Kol Lagois . . . SALUUT!

Onnie ·

Bly weg van die Slamse, hulle is wrede mense, kyk maar na plekke soos Afghanistan en groepe soos Isis. As Reinier net van beter geweet het. Maar die liefde is bind, sien flinters aan vir ‘n lint!?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.