Lt.kol. Katlego Mogale, woordvoerder van die polisie, het gesê Mapoyisa Mahlauli (30) is in die Skukuza-streekhof tot twee jaar tronkstraf gevonnis vir betreding in die Krugerwildtuin, 10 jaar tronkstraf vir die onwettige jag van renoster, agt jaar vir die besit van ʼn vuurwapen met die bedoeling om ʼn misdaad te pleeg en drie jaar tronkstraf vir die onwettige besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen.
Mogale het gesê van die vonnisse sal gelyklopend uitgedien word en dat Mahlauli effektief 20 jaar tronkstraf moet uitdien.
Mahlauli is op 17 Maart verlede jaar in Satara in die Krugerwildtuin in hegtenis geneem. Veldwagters was besig om die gebied te patrolleer toe hulle geweerskote gehoor het. ʼn Renosterkoei se karkas is kort daarna gevind en veldwagters het die verdagtes se spore agternagesit.
Veldwagters het op Mahlauli en nog ʼn verdagte afgekom waarna ʼn skietgeveg uitgebreek het. Mahlauli is in hegtenis geneem terwyl sy medepligtige daarin kon slaag om te ontsnap. Daar is op ʼn jaggeweer, ammunisie, ʼn byl en renosterhorings beslag gelê.
Volgens Mogale verwelkom die polisie die vonnis wat aan Mahlauli opgelê is en hoop hulle dit sal as afskrikmiddel vir moontlike renosterstropers dien.