Man gevonnis vir skietdood van matriekseun

Glenrico Martin se ouers, Henrietta en Michael, buite die hof. Foto: ANA

Glenrico Martin se ouers, Henrietta en Michael, buite die hof. Foto: ANA

Jevon Snyman (21), die man wat skuldig bevind is vir sy aandeel in die moord op Glenrico Martin, ʼn matriekleerling wat koelbloedig voor sy skool doodgeskiet is, is Donderdag in die Wes-Kaapse hooggeregshof gevonnis.

Regter Lister Nuku het Snyman tot 25 jaar tronkstraf gevonnis. Snyman is vroeër vanjaar skuldig bevind aan moord op die beginsel van gedeelde bedoeling. Snyman se medebeskuldigde, Wilston Stoffels, dien tans 24 jaar tronkstraf uit nadat hy ʼn pleitooreenkoms met die staat aangegaan het. Hy het erken dat hy die sneller getrek het.

Martin is in Mei 2013 ten aanskoue van ander skoliere op die skoolgrond van die Spes Bona Secondary School in Athlone doodgeskiet. Snyman, wat ten tyde van die moord 20 jaar oud was, was deel van die G-Unit-bende en het uit wraak aan die aanval deelgeneem. Gedurende die verhoor het dit aan lig gekom dat Martin deel was van die Hard Livings-bende.

Snyman is nie net op aanklag van moord skuldig bevind nie, maar ook vir die onwettige besit van ʼn vuurwapen. Nuku het Donderdag gesê hy het die minimumvonnis vir moord, soos deur wetgewing voorgeskryf, in ag geneem tydens sy besluit op die vonnis.

Nuku het gesê hy het besluit om Snyman nie tot lewenslange tronkstraf te vonnis nie aangesien hy ʼn eerste oortreder is, net 20 jaar oud was ten tyde van die moord en reeds twee en ʼn half jaar verhoorafwagtend was. Snyman sal dus om parool kan aansoek doen wanneer hy tweederdes van sy vonnis uitgedien het.

Snyman is ook tot vyf jaar tronkstraf gevonnis vir die onwettige besit van ʼn vuurwapen en tot drie jaar tronkstraf vir die onwettige besit van ammunisie. Die vonnisse sal gelyklopend uitgedien word.

Martin se ouers het die vonnis verwelkom en gesê Snyman “het gekry wat hy verdien”. Henrietta Martin het ontken dat haar seun ʼn lid van ʼn bende was en het gesê sy kon nie die motief vir die moord verstaan nie. “Hoewel geregtigheid geskied het, sal dit nie [vir Glenrico] terugbring nie,” het sy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.