Man gevonnis vir wrede verkragting van meisie (14)

hof-hamer

Argieffoto

Die Wes-Kaapse hooggeregshof het Woensdag ʼn man gevonnis vir die wrede verkragting en poging tot moord op ʼn 14-jarige meisie in Grabouw verlede jaar.

Die voorval in Julie 2015 het skokgolwe deur die Grabouw-gemeenskap gestuur nadat Pakiso Panyana die meisie, wie se naam nie genoem kan word nie, helder oordag oorval, verkrag en aangerand het.

Die grafiese besonderhede van die voorval is in die saak se pleitverduideliking vervat. Panyana, wat ten tyde van die voorval 22 jaar oud was, was in ʼn park naby die Grabouw-begraafplaas toe hy sy slagoffer raakgesien het. Hy het haar met ʼn moersleutel geslaan en haar van persoonlike items en R20 beroof.

Hy het haar daarna tussen bosse ingesleep, haar hande met ʼn serp en draad vasgebind en haar twee keer verkrag. Daarna het hy haar met ʼn skroewedraaier in die nek gesteek en haar herhaaldelik met groot klippe oor die kop geslaan. Toe hy die toneel verlaat het, het die meisie uit haar mond gebloei en was hy “seker sy is dood omdat sy stil gelê het”.

Die jong meisie het egter net gemaak of sy dood is in ʼn poging om te oorleef. Haar skedel was op vyf plekke gekraak en haar arm op drie plekke gebreek.

Die tiener het ná die aanval byna ʼn maand in die hospitaal deurgebring. Nadat sy ontslaan is, het sy teruggekeer skool toe en het sedertdien volkome herstel. Volgens die pleitverduideliking vaar die meisie tans goed op skool ten spyte van die ernstige kopbeserings wat sy opgedoen het.

Panyana is aangekla van roof, ontvoering, twee aanklagte van verkragting en poging tot moord. Hy is tot 12 jaar tronkstraf gevonnis vir roof, vyf jaar tronkstraf vir ontvoering, 25 jaar tronkstraf vir die verkragtingsaanklagte en tien jaar tronkstraf vir poging tot moord. Die vonnisse sal gelyklopend uitgedien word en Panyana is dus effektief tot 25 jaar tronkstraf gevonnis.

Regter John Hlophe het beveel dat Panyana eers toegelaat word om vir parool aansoek te doen ná 15 jaar agter tralies. Sy naam sal ook op die nasionale register vir seksuele oortreders bygevoeg word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

lorayne ·

BAIE dankie regter John Hlope! Suid afrika sal darem verlos wees van NOG ‘n moordadige krimineel vir 15 jaar. . .

Jan ·

Kan iemand vir my verduidelik waarom twee of meer vonisse altyd gelyktydig uitgedien word? Dit bevoordeel mos die skuldige, m.a.w. iemand wat ‘n vrou verkrag het en haar daarna vermoor het, sit effektief net so lank in die tronk as iemand wat onder dieselfde omstandighede’n vrou verkrag het, en haar daarna laat gaan het. Sekerlik moet die moordenaar langer sit.

Piet ·

As hy net 15 jaar sit is hy nog nie eens 40 as hy weer uit is op straat. Jonk genoeg om weer te verkrag en moor. Hy kan seker nie meer wag nie! Al hoop is nou dat hy van iets afsterwe in die tronk, want daar is geen manier dat n persoon van sy kaliber rehabiliteerbaar is nie.

Arsène Lupin ·

“Volkome herstel” – wie bepaal sy het volkome herstel? wat van al daai ander letsels wat mens nie noodwendig met die oog kan siennie! Die meisie se lewe is onherroeplik vewoes.

Marina ·

So hy kry lewenslank. Ja jan ek stem saam met jou, dit is nie reg nie maar wat verwag jy van ons baie “effektiewe” regstelsel en regering?

ulinda ·

mag sy einde vir hom wag daai kant in sy free cozy sel!
hoe doen mens so iets aan ‘n ander

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.