Man gevonnis wat 2-jarige verkrag, wreed vermoor

hof-hamer

Argieffoto.

WAARSKUWING: Die berig bevat grafiese inhoud en kan sensitiewe lesers en kinders ontstel.

ʼn 29-jarige veiligheidswag van Sandton in Johannesburg is Donderdag in die Johannesburgse hooggeregshof twee lewenslange vonnisse opgelê vir die verkragting van en moord op ʼn tweejarige dogtertjie.

Thokozani Mthiyane (29) is afgesien van die lewenslange vonnisse ook tot sewe jaar bykomende tronkstraf gevonnis nadat hy ook skuldig bevind is aan dwarsboming van die gereg en dat hy ʼn kind gedwing het om ʼn seksuele misdaad te aanskou.

Die voorval het glo gebeur toe die ma van die tweejarige haar in die sorg van ʼn 14-jarige kind gelaat het. Mthiyane, ʼn veiligheidswag by die kompleks in Morningside waar die gesin woon, het in die huis ingegaan en die tweejarige voor die ouer kind verkrag en vermoor.

Volgens hofstukke het Mthiyane die 14-jarige glo beveel om aan haar ma te sê dat die peuter dood is nadat sy van die bed afgeval het en gedreig om haar dood te maak as sy dit nie sou doen nie. Die 14-jarige het later die waarheid aan haar ouma vertel nadat sy in kennis gestel is dat daar geen bewyse is dat die tweejarige geval het nie.

Daar is in die hof gehoor ʼn nadoodse ondersoek het bepaal dat die peuter verwurg is. ʼn Patoloog het aan die hof gesê dit kon tot sowat 30 minute geneem het voordat sy gesterf het.

Regter Maletsatsi Mahalelo het tydens haar uitspraak gesê verkragting en moord is ernstige oortredings en dat die slagoffer en ander inwoners van die kompleks Mthiyane as ʼn beskermer gesien het. “Die beskuldigde het geen spyt of berou oor sy dade getoon nie en sy optrede wys dat hy nié gerehabiliteer kan word nie,” het sy gesê.

Mthiyane het tydens die verhoor volgehou dat hy nie onthou wat op die dag van die moord gebeur het nie. Hy het self twee kinders, onderskeidelik vyf en sewe jaar oud, wat by hul ma in KwaZulu-Natal woon.

Die tweejarige se pa het ná die vonnisoplegging gesê die gesin se genesingsproses gaan “stadig en pynlik” wees. “Die dood van ons kind het my baie erg geraak. Ek was nog nie weer in staat om te werk nie en my gesondheid is ook nie goed nie. My gemoedstoestand is sleg en ek weet die genesingsproses gaan tyd neem,” het hy gesê.

Mahalelo het Mthiyane se aansoek om verlof tot appèl geweier. Mthiyane sal sy vonnisse gelyklopend uitdien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Naomi ·

Die paragraaf “regter….” lees uiters moeilik en het heelwat spelfoutjies ;-)

Sune van Heerden ·

Dagsê Naomi

O aarde, ons vermoed iets moes in die publisering van die artikel skeefgeloop het.
Ons wysig die berig.
Dankie dat jy ons daarop gewys het!

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Muffin ·

Die doodstraf sal maar net weer ingestel moet word. Nou moet ons belastingbetalers lewenslank vir die moordenaar Thokozani sorg.

$ ·

Ek verstaan glad nie wat die rede is vir meer as een vonnis as dit gelyklopend uitgedien word nie. In effek kan jy eintlik maar tientalle misdade pleeg en word dan slegs vir een gestraf. Meer as een vonnis is glad nie ‘n afskrikmiddel nie want jy kom weg met “twee of meer misdade vir die prys van een”.

Marianne ·

Ooh Here dis so wreed en onnodig. Arme gesien, ek hoop die tiener kry berading.

Ons Regstelsel sal moet verander, ons land is besig om st mense we vaal, moord, verkragting, aanrandings…. dis as of mens van niks MOOI meer hoor nie, hierdie misdade is so algeneem….

Nee hel man!

Wanneer gaan smart en verdriet tot ‘n einde kom? wanneer gaan ‘n lewe weer iets werd wees?

Elize Barnard ·

Hoekom moet ons swaar verdiende belasting geld sulke mense borg in die tronk???

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.