Man gevonnis wat duisende pornografiese foto’s van kinders versprei

(Argieffoto ter illustrasie / Unsplash)

ʼn 66-jarige man wat nagenoeg 3 000 pornografiese foto’s van kinders besit en versprei het, is tot agt jaar direkte tronkstraf in die Wynberg-streekhof in Kaapstad gevonnis.

Jan-Hendrick le Roux is vroeër daaraan skuldig bevind dat hy dié pornografiese foto’s onwettig besit en versprei het, waarop die hof tronkstraf van agt jaar op elk van die klagtes opgelê het. Die vonnisse sal egter samelopend uitgedien word. 

Volgens Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag in die Wes-Kaap, het Le Roux aangevoer dat hy die pornografiese foto’s vir “ondersoekende doeleindes” bekom het. 

Staatsaanklaer Xolani Ncobo kon egter bo redelike twyfel bewys dat Le Roux deel is van ʼn internasionale kinderpornografienetwerk, wat tot sy suksesvolle vervolging gelei het. Ntabazalila sê dié kinderpornografienetwerk deel en versprei nie net pornografiese foto’s en beeldmateriaal van kinders nie, maar bespreek ook die ontvoering en seksuele mishandeling van kinders.

Le Roux is in hegtenis geneem nadat Belgiese polisie ʼn Belgiese burger in hegtenis geneem het wat kinderpornografie met Le Roux gedeel het. Die Belgiese ondersoekbeampte het die IP-adres van die Belgiese beskuldigde gebruik om ander IP-adresse op te spoor, waarvan een na Suid-Afrika en direk na Le Roux gelei het.

Om homself te verdedig het Le Roux aangevoer dat hy self as kind seksueel mishandel is en dat hy nooit enige traumaberading ontvang het nie. Hy het erken dat hy die kinderpornografie van die “donker web” GigaTribe afgelaai het, maar bloot om te sien of die mense wat dit deel ook ʼn groep pedofiele is soos dié wat hom as kind gemolesteer het.

Le Roux kon egter nie verduidelik hoe hy van plan was om dié pedofiele te identifiseer nie.

Ncobo het aan die hof gesê dat gebruikers op die donker web skuilname gebruik en dat die beskuldigde geensins sou kon bepaal wie hulle is nie.

Le Roux het boonop nooit ʼn poging aangewend om die polisie van die webblad in kennis te stel nie, al het hy dit geruime tyd gebruik.

“Hy was verslaaf aan kinderpornografie en sy dade was nooit onskuldig of met goeie bedoelings uitgevoer nie. Sy bedoeling was om die [pornografiese] materiaal af te laai en te besit,” het Ntabazalila gesê.

“Die materiaal was afskuwelik en tekenend dat die persoon wat dit besit het, verskriklike bedoelings met kinders gehad het.”

Adv. Nicolette Bell, die Wes-Kaapse direkteur van openbare vervolgings, het die vonnis verwelkom – veral in die lig van die 16 dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders-veldtog wat tans landwyd uitgerol word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Karoo ·

8 Jaar…. net 8 jaar… hy sit met ‘n vet bank rekening, vat sy geld af en gebruik dit vir misdaad voorkoming ens.

Kaal Keiser ·

…die feit dat daar ‘n mark is waarna die foto’s versprei word is net siek verby !

Seder op die horison ·

Ontbloot die kwaaddoeners dat almal kan weet wie hulle is

Seder op die horison ·

straf is te lig daarom gaan hulle net voort daarmee – hulle lag vir so ligte vonnis – want 4jaar dan is hy uit

Ronél ·

Hy moet lewenslank sit EN dan het hy nog die voordeel van Tegnologie agter die tronkdeure….!!!

ES ·

Op 66 moet jy iemand wees wat jou kennis en wysheid met jou kinders en kleinkinders deel – nie jouself besig hou met sulke afskuwelike gruwels nie.

Jy moet maar sommer vir die res van jou lewe in die tronk bly.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.